Cheetahs se kans ná Kings se (voortgesette) geploeter

Die Cheetahs behoort in hulle volgende drie wedstryde hulle aandele om die Pro14-uitspeelwedstryde te haal ʼn groot hupstoot te gee.

Saterdag (15:15) kom hulle in Treviso teen Benetton Treviso te staan, en dan volg twee van hulle drie wedstryde teen die Southern Kings – die eerste in die Nelson Mandelabaai-stadion en dan in Bloemfontein.

Die Cheetahs, tans derde in afdeling A van die Pro14-reeks, is slegs vyf punte agter Connacht en die Cardiff Blues, maar het twee wedstryde minder gespeel.

Benetton se vyf oorwinnings in 12 wedstryde het gekom teen drie van die vier swakste klubs in die reeks, Zebre (twee keer), die Southern Kings en die Ospreys.

♦  Maar Benetton het ook al die sterk Edinburgh geklop, wat Vrydagaand die soveelste swak vertoning van die Kings uitgebuit en met 37-7 gewen het. ʼn Mens hoef nie veel oor die wedstryd te sê nie behalwe dat hulle sonder plan of struktuur en met bitter min talent feitlik geen ordentlike besit gehad het nie en dít boonop weggeskop het.

♦  Die Cheetahs gaan Saterdagaand se wedstryd binne met die agterstand dat hulle op 2 Desember laas gespeel het. Benetton het verlede naweek en ook die vorige week uitgedraf.

Vir die Cheetahs is ʼn oorwinning teen Benetton uiters belangrik. Dusver het hulle drie uit die vier wedstryde oorsee verloor terwyl hulle goeie plasing op die punteleer te danke is aan die enkele neerlaag in ses wedstryde in Bloemfontein.

Daar is Saterdagaand die pluspunt dat hulle nommer een-senter, die Springbok Francois Venter, weer na sy nasionale verpligtinge eterug is; dat hulle die twee voorspeler-Bokke Oupa Mohoje en Uzair Cassiem terug het; en dat hulle dusver ʼn relatiewe klein omset in spelers gehad het.

Daar is ook die Rory Duncan-faktor. Stil-stil was hy kaptein van die Cheetahs en die Southern Kings, het hy vir Grey Kollege afgerig, in 2015 direkteur van Cheetahs se afrigting geword, en vanjaar die Curriebekerspan oorgeneem voordat hy hulle moes afstaan om op die Pro14 te konsentreer.

Duncan doen iets reg, want hy het die Vrystaters leer inklim voorlangs en reguit hardloop agterlangs – en hy het hulle in hulself laat glo na twee yslike loesings in hul eerste Pro14-wedstryde.

Die wedstryd begin 15:15.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.