Cheetahs se moed was nie genoeg

jaguiares-logoAs ʼn uitslag bloot van moed afhang, moes die Cheetahs Saterdagaand baie naby aan ʼn sege teen die Jaguares in Buenos Aires gekom het. Maar ongelukkig speel foute en vaardigheid ook ʼn rol.

Die Jaguares het 41-14 gewen en vyf drieë teen twee gedruk. Hulle het rustyd met 17-7 voorgeloop en daarna self klippe gekou en hulle laaste 14 punte met twee doele eers in die laaste vier minute van die kragmeting, aangeteken.

Die Cheetahs was seker meer voorbereid as die jong Lions van die vorige week op die ongenaakbare lakwerk en opskietverdediging van die tuisspan. Hulle het egter nooit teruggedeins nie, maar moes op die verdediging swig voor die goeie samespel en vermoë om gapings te vind van die tuisspan terwyl hul eie aanvalle te stereotiep was.

Jy kan nie bloot die bal langs die agterlyn afstuur nie, en dit boonop teen ʼn verdediging wat gereeld uit pare verdedigers bestaan het.

Soos alle Suid-Afrikaanse spanne moet die Cheetahs ook leer om die gapings aan te val.

Ja, dit was ʼn ietwat gelapte Cheetahsspan weens beseringsprobleme, en ja, die tuisspan het tussen hulle feitlik 600 toetse gespeel teenoor die vrystaters se enigste Springbok Oupa Mohoje se 15. Maar hulle onvermoë om af te rond , die minder geleenthede wat geskep is, het die Cheetahs gekelder.

Die goeie skrumwerk van die Vrystaters, veral in die tweede helfte, het die tuisspan verras, met die ander (negatiewe) kenmerk die eenogige televisieskeidsregter Santiago Borsani van Argentinië. ʼn Fout is een ding, blatante verneukery iets anders.

Puntemakers –

Jaguares (17) 41: Drieë: Ramiro Moyano 4, Matias Alemanno, strafdrie. Doelskoppe: Juan Martin Hernandez 4. Strafdoele: Hernandez 2
Cheetahs: (7) 14: Drieë: Michael van der Spuy, Joseph Dweba. Doelskoppe: Niel Marais 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Die uitslag bewys maar net weer dat Suid Afrikaanse rugbykrag oor 6 unies versprei lê teenoor ‘n gekonsentreerde Argentynse unie.As jy dus nie elke keer met ‘n A-span en plan daar opdaag nie is die kanse groot dat jy droë bek huistoe gan kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.