Cheetahs se tuis-jagveld eis nog ʼn oorsese slagoffer

Die Cheetahs het hulle derde plek in groep A van die Pro14-reeks behou en is tans sesde uit al 14 die liga se spanne – een van dié verrassings in die reeks wat vanjaar uitgebrei is.

Die tuisspan het in Bloemfontein met 28-21 teen die Scarlets van Llanelli gewen in ʼn wedstryd waarin albei spanne nie geskroom het om met die bal te hardloop nie.

Ja, die Walliesers was sonder ʼn hele paar sleutelspelers. Maar die Cheetahs het self twee manne, Francois Venter en Oupa Mohoje, gehad wat in Cardiff toetsrugby gespeel het en daarbenewens nóg nege wat nie vir die wedstryd oorweeg kon word nie.

Ondanks talle foute en dissipline, met laasgenoemde wat veral by die Scarlets gelol het, was dit ʼn lekker wedstryd waarin die Cheetahs herbeklemtoon het dat ʼn besoek van die Britse en Ierse spanne aan die Vrystaatstadion vir almal ʼn moeilike stryd sál beteken.

♦  Die gelykopstryd is ietwat versteur toe die amperse nuweling, vanjaar se Matiekaptein, Craig Barry – wat verlede week as plaasvervanger gaan druk het – Saterdagaand na sowat 58 minute ʼn pragtige individuele poging net regs van die regoppaal afgerond het.

Dit het die rustydtelling van 16-11 na 21-11 geneem met nog 22 minute speeltyd oor – maar die Scarlets het feitlik onmiddellik ook met ʼn verdoelde drie toegeslaan.

Tien minute later het Barry egter weer so gemaak, en ondanks ʼn paar goeie aanvalle van die besoekers was dit net te veel vir hulle en het ʼn laat strafdoel vyf minute voor die einde darem aan hulle ʼn bonuspunt op 21-28 besorg.

Puntemakers –

Cheetahs (16) 28: Drieë: William Small-Smith, Craig Barry (2). Doelskoppe: Fred Zeilinga (2). Strafdoele: Fred Zeilinga (3)
Scarlets (11) 21: Drieë: Jessie Davis, Ioan Nicholas. Doelskoppe: Dan Jones. Strafdoele: Dan Jones  (2), Tom Prydie

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.