Cheetahs skitter – maar sewe van Edinburg maak reg vir Wallabies

Die Cheetahs en hulle tuisveld, die Vrystaatstadion, bly sterk bondgenote, soos Edinburg Vrydagaand in hulle Pro14-kragmeting uitgevind het. Maar hokaai eers voor die lofliedere oor die Vrystaters té luid weerklink.

Ja, hulle was goed, baie goed, het met 33-13 gewen, ʼn bonuspunt vir hulle vyf drieë (teen net een) verdien en die besoekers voorlangs uitmekaar geskrum en gespeel.

Die Cheetahs bly dus gemaklik in die derde plek op die A-afdeling se puntelys, maar moet nie heeltemal té breëbors loop nie.

Want sien, die pak voorspelers van die besoekers wat Vrydagaand so deur Torsten van Jaarsveld-hulle verniel is, is nie naastenby hulle beste nie.

Daar is sewe van hulle voorspelers, insluitende die hele voorry en twee slotte, plus twee losvoorspelers wat in Skotland agtergebly het.

Hulle moet Saterdag teen die Wallabies speel nadat Skotland verlede week op Murrayfield so amper-amper die eerste Skotse span geword het wat die All Blacks kon klop.

Boonop het die blitsige jong vleuel, Darcy Graham, ook nie na Suid-Afrika gereis nie. Hy speel aanstaande naweek in Dubai vir Skotland in Wêreldrugby se sewesreeks.

♦  Die Cheetahs kan nietemin tevrede voel met die wedstryd. Rory Duncan doen iets sommer heeltemal reg, want die Vrystaatse span se basiese werk word uitstekend gedoen.

Dan het hy ook, ondanks die verlies van manne soos Francois Venter, Oupa Mohoje (albei by die Bokke) en Sergeal Petersen (WP toe) en Raymond Rhule (Bokke en WP toe), steeds spelskeppers van gehalte.

Vrydagaand was Clayton Blommetjies in dié opsig uitstekend, Makazole Mapimpi het sy negende drie in die Pro14-reeks gedruk, en die nuwe senterkombinasie van Nico Lee en William Small-Smith het goed gekliek.

Die onderskatte Paul Schoeman doen steeds die donkiewerk as flank, en sy werk is vergemaklik met die gesteelde balle en goeie aansluiting van Junior Pokomela.

Puntemakers –

Cheetahs (14) 33: Drieë: Craig Barry, Rynier Bernardo, Junior Pokomela, Makazole Mapimpi, Tiaan Meyer. Doelskoppe: Fred Zeilinga 4.
Edinburg (0) 13: Drie: Sam Hidalgo-Cline. Doelskop Hidalgo-Cline. Strafdoele: Hidalgo-Cline 2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.