Cheetahs so-so, maar klop Zebré vir eerste wegsege

Tian Meyer laat loop die bal teen Zebré (Foto:  Pro14rugby.org)

Die Cheetahs is, ondanks ʼn so-so vertoning Saterdagaand, steeds op koers na hul sukkel-begin in die Pro14-reeks.

Hulle het in Zebré se Stadio Sergio Lanfranch hulle vierde oorwinning in sewe wedstryde en die eerste een weg van die Vrystaatstadion af behaal toe hulle die Italianers met 24-23 geklop het.

Met die oorwinning bly hulle derde op die puntelys in afdeling A.

Die wenpunte het letterlik met die laaste aksie van die wedstryd gekom toe Fred Zeilinga die strafdoel voor die pale oorgeskop en die fluitjie onmiddellik daarna geblaas het.

Die Cheetahs het met hulle gewone bal-in-die-hand benadering weggespring en hulle was binne ses minute 8-0 voor nadat Makazole Mapimpi na net vyf minute gaan druk het, net twee minute nadat Ernst Stapelberg met ʼn strafdoel geslaag het.

Maar dit was die Cheetahs, wat nie naastenby skerp voorgekom het nie, se laaste punte van die eerste helfte.

Zebré se losskakel Carlo Canna het na nege minute die eerste van sy drie strafdoele oorgeskop, dit drie minute later met sy tweede strafdoel opgevolg en het toe die heelagter Matteo Minozzi se drie in die 17de minuut verdoel.

Canna se derde strafdoel in die 27ste minuut het die tuisspan toe met 16-8 laat voorloop, wat ook die rustydtelling was.

Zebré het voor hulle tuisskare met ʼn groter passie as in Bloemfontein gespeel toe hulle 39-54 verloor het en het 13 minute na rustyd nog sewe punte by hulle totaal gevoeg toe die haker Oliviero Fabiani se drie ook deur Canna verdoel is.

Die telling was toe 23-8 in die tuisspan se guns en dit het nie vir hulle goed gelyk nie.
Die Cheetahs het met rukke en stote gespeel. Daar is wel geleenthede geskep, maar hulle sal meer klinies moet afrond en ook deurgaans met groter dringendheid moet speel.

Stapelberg het na rustyd die Cheetahs met nog twee strafdoele laat naderkruip (14-23) en toe het Mapimpi, reeds een van die reeks se gemerkte manne, sy sewende drie in sy sewende wedstryd gedruk.

Fred Zeilinga, wat in hierdie seisoen van losskakelbeserings by die Cheetahs nou sy eerste proesel Pro14-rugby ná sy heupoperasie ervaar het, het Mapimpi se tweede drie verdoel.

Zeilinga het toe, met die Cheetahs steeds 21-23 agter,  ʼn lang strafdoel sowat vyf minute voor die einde sleg getref, en die bal het kort geval.

Toe het die Vrystaters egter die eerste keer werklik met ʼn dringendheid gespeel en in die laaste oomblikke ʼn strafdoel voor die pale afgedwing wat Zeilinga verdoel het.

Puntemakers –
Zebré (16) 23:
Drieë: Matteo Minozzi,  Oliviero Fabiani. Doelskoppe: Carlos Canna 2. Strafdoele: Canna 3.
Cheetahs: (8) 24: Drieë: Makazole Mapimpi 2. Doelskop: Fred Zeilinga. Strafdoele: Ernst Stapelberg 3, Zeilinga

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.