Cheetahs soek ’n sege vir Kersfees

William Small-Smith. Foto: Twitter.

Die Cheetahs sal alles in die stryd werp om weer op die wenpad te kom vóór hul Kersfees-rusperiode. Die Bloemfonteiners speel Saterdag in hul laaste wedstryd van die jaar teen die Ospreys in Neath en sal dan eers weer op 4 Januarie 2020 in aksie wees.

Ná ’n paar briljante blitzkrieg-vertonings op hul tuisveld het hul wegholtrein effens in Europa ontspoor. Sopnat weersomstandighede, rooi kaarte, en so meer het alles bygedra dat Hawies Fourie se span drie agtereenvolgende wedstryde op toer verloor het.

Die span het selfs die oefenrugbyballe in water gedoop om meer vertroud te raak met die glibberige toestande.

Die Kings het egter gewys dat ’n Suid-Afrikaanse span ook weg van die huis kan wen, toe hulle die einste Ospreys geklop het vir ’n geskiedkundige wegoorwinning in die Guinness Pro14.

“Ons wil hierdie wedstryd om verskeie redes wen. Daar was ’n groot bohaai rondom die span toe ons die wedstryde in Bloemfontein gewen het. Ons wil hê ons ondersteuners moet weer só trots wees op die span,” het die Cheetahs se William Small-Smith gesê.

“Ons wil bitter graag in die uitspeelwedstryde speel. Daarom is Saterdag se kragmeting so belangrik vir ons.”

Volgens Small-Smith sal die ruskans oor Kersfees as ekstra motivering vir die span dien om hul bes te doen.

“Ons is nou vir ’n taamlike lang ruk af en wil nie alles in die wiele ry deur heeltyd aan ’n nederlaag te dink nie.

“Ek onthou toe ons teen die Cardiff Blues verloor het. Die pad terug na ons hotel het baie lank gevoel en die nederlaag het soos ’n donker wolk oor ons gehang. Ons wil nou ná Saterdag ’n blaaskans neem en nie voel asof ons nie ons bes gegee het in ons laaste wedstryd van 2019 nie.”

  • Die Kings speel teen Connacht in Galway.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.