Cheetahs speel vir die punteleer

Die Cheetahs behoort hulle derde plek in afdeling A van die Pro14-reeks Saterdagmiddag (17:00) in Bloemfontein in die herontmoeting met die Southern Kings te verstewig.

Vir die Cheetahs is dít hulle uitdaging, en daarmee saam is daar die noodsaaklikheid dat hulle minder strafskoppe en minder geelkaarte afstaan as in hulle afgelope twee wedstryde.

Die Kings het verlede week plek-plek goeie rugby gespeel, maar dit is maar die storie van hulle seisoen: belofte sonder ligapunte. Hanteerfoute en swak besluitneming wanneer dit tel, is hulle ondergang – tesame met ʼn planloosheid, of dan ʼn plan waarby die spelers nie hou nie.

Die Kings het weer aan hulle span gaan staan en krap – darem minder – en verbeter só stellig die saamgeflansery van die span.

Die Cheetahs het ook skuiwe voorlangs gemaak en sê totsiens aan die driedrukkoning Makazole Mapimpi en waarskynlik ook sy medevleuel Craig Barry.

Mapimpi, na ʼn “ek gaan, ek bly” houding, sluit nou Maandag wel by die Sharks aan en Barry was slegs ʼn leenspeler van die Westelike Provinsie, waarheen hy heel waarskynlik sal moet terugkeer.

Oupa Mohoje voer die Cheetahs aan. Hy is ʼn bewese leier en staan in vir Swys Venter en Torsten van Jaarsveld, wat albei beseer is.

In Bloemfontein, na die neerlaag teen Benetton voorverlede week en ondanks die amperse skrik teen die Kings verlede naweek, behoort die Vrystaters te wen – en ʼn bonuspunt in te samel.

En behoort die Kings, dan met 13 neerlae, een of ander rekord in Suid-Afrika se meer onlangse geskiedenis in internasionale ligas te hou.

Die spanne –

Cheetahs: 15 Clayton Blommetjies, 14 Craig Barry, 13 Nico Lee, 12 Niel Marais, 11 Makazola Mapimpi, 10 Fred Zeilinga, 9 Shaun Venter, 8 Uzair Cassiem, 7 Teboho Mohoje (kapt.), 6 Henco Venter, 5 Reniel Hugo, 4 Justin Basson, 3 Johan Coetzee, 2 Jacques Du Toit, 1 Ox Nché. Bank: 16 Joseph Dweba, 17 Charles Marais, 18 Tom Botha, 19 Rynier Bernardo, 20 Junior Pokomela, 21 Mthokozisi Mkhabela, 22 Clinton Swart, 23 Adriaan Coertzen.

Southern Kings: 15 Ntabeni Dukisa, 14 Michael Makase, 13 Harlon Klaasen, 12 Luzuko Vulindlu, 11 Yaw Penxe, 10 Martin du Toit, 9 Rowan Gouws, 8 Ruaan Lerm, 7 Martinus Burger, 6 Andisa Ntsila, 5 Bobby de Wee, 4 Stephan Greeff, 3 Pieter Scholtz, 2 Michael Willemse (kapt.), 1 Schalk Ferreira. Bank: 16 Tango Balekile, 17 Johan Smith, 18 Dayan van der Westhuizen, 19 Lindokuhle Welemu, 20 Eital Bredenkamp, 21 Rudi van Rooyen, 22 Benhard Janse van Rensburg, 23 Berton Klaasen.

Afskop: 17:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.