Cheetahs steek Lions na die kroon met hardlooprugby

cheetahs-cropDie Lions het die afgelope paar seisoene baie se lieflingspan geword oor die lekker hardlooprugby wat hulle speel. Maar skielik het hulle kwaai teenstand vir hierdie titel.

Die Cheetahs het Saterdagaand in Bloemfontein die Bulls met 34-28 geklop nadat hulle in die eerste helfte met volgehoue en skitterende hardlooprugby vier drieë gaan druk het.

Goed, die punteverskil is nie groot nie en ja, die Vrystaters het nie in die tweede helfte ʼn drie gedruk nie, maar hulle was ongetwyfeld die beste span. En ook in die tweede helfte het hulle eenvoudig aanhou hardloop en hardloop.

Maar dit was nie net hardloop nie, iets wat hulle by uitstek goed gedoen het in dié mate dat die Bulls op die verdediging verward voorgekom het. Die Cheetahs het ook in die lynstane van die Bulls se balle gewen en by die afbreekpunte stukke beter gevaar totdat die Bulls hulle plaasvervangers sowat halfpad deur die tweede helfte opgekommandeer het.

Die gevolg was dat die Cheetahs-agterlyn, wat alles op volle vaart en met goeie besluitneming gedoen het, oorgenoeg besit gehad het om hulle ware uit te stal teen ʼn span wat self wou hardloop maar wat nie die nodige besit gehad het nie.

Wanneer die Bulls in die eerste helfte wel die bal wyd probeer neem het, was daar ook die dieselfde selfvertroue as by die Vrystaters nie. Hulle het alles stadiger gedoen, so of hulle gedink het waarheen en wanneer hulle moet uitgee. Daar was ook te veel hanteerfoute, met die distribusie én met die vang van die bal.

Geen span kan 38 hanteerfoute teenoor 13 maak en verwag om te wen nie – veral nie as jy boonop minder besit kry nie.

Die grootste Bulls-probleem was moontlik hulle onsekerheid op verdediging. Dit het ʼn paar keer voorgekom of die spelers nie geweet het wie vir wie moes merk of keer nie.

Daar was letterlik ook gevalle waar daar nét Bullsvoorspelers aan die kant van die losskrum gestaan het waar hulle net Cheetahs-agterspelers gehad het om te keer.

Dít was uiteraard ʼn ongelyke stryd …

Die Bulls het beter geskrum as teen die Stormers, en Handré Pollard was ook beter maar ver van sy beste. Aan die ander kant kan geen losskakel op die agtervoet homself laat geld teen ʼn span wat meestal retireer nie.

Puntemakers –

Cheetahs (28) 34: Drieë: Clinton Swart, Oupa Mohoje 2, Justin Basson. Doelskoppe: Fred Zeilinga 4. Strafdoele: Zeilinga 2
Bulls (14) 28: Drieë; Jason Jenkins, Piet van Zyl, Jamba Ulengo  Doelskoppe: Tian Schoeman 2.   Strafdoele: Handré Pollard 3

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jan Jooste ·

Is hierdie artikel se opskrif korrek? Dit herinner aan liberale pers waar opskrif geensins uitkom by artikel nie. Voorspoed.

Henry ·

Goeie voorbeeld van fopnuus joernaliste se skeppings. .
:-)))

Frans C ·

Die grootste teleurstelling was die Bulle se skakelpaar en ongeorganiseerde verdediging. Ek weet nie of Pollard in opdrag van die Nasionale afrigter soveel speelkans kry om weer sy vorm te herwin.

Die Van Zyl/Schoeman skakelpaar het veel beter en meer ondernemingsgees getoon.
Word teveel Bulle nie net opreputasie en nie vorm gekies nie?

Nou weet ons nog nie of die Bulle doodgewoon net swak is en of die Vrystaat regtig goed is.

Joel ·

Die bulle weet ook nie hoe om vir die bal te kompeteer op die grond nie. Well done Cheetahs

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.