Cheetahs verloor, Kings maak skande

Die Cheetahs was Saterdagaand in Cardiff nie op hulle beste in ʼn taai wedstryd teen die Cardiff Blues nie.

Hoewel die tuisspan vir ʼn groot deel van die wedstryd net met twee punte voor was en daar die hele tyd die hoop was dat Swys Venter se span die oorwinning sou kon behaal, was Cardiff net ʼn bietjie meer oortuigend in alles wat hulle gedoen het. Die eindtelling was 25-20.

Cardiff moes inhaal rugby speel nadat Ox Nché na vier minute gaan druk en Fred Zeilinga verdoel het, en na 14 minute met 14-0 voorgeloop het. Maar toe het die Bloutruie hulle ritme gevind.

Teen rustyd was hulle 15-10 voor met ʼn strafdoel kort voor die blaastydfluitjie, en die tweede helfte het aan Cardiff behoort.

Hulle het, in die reën en teen die sterk wind, gebiedsvoordeel geniet en die gate in die Cheetahs se verdediging goed uitgebuit.

Uitstekende verdediging het die gevaarlike Cheetahs-agterlyn aan bande gelê. Voorlangs was Cardiff ook baas teen ʼn agttal wat goed walgegooi het maar op die voorvoet miskien nie genoegsaam as eenheid ingeklim het nie en ook te veel omkeerbesit afgestaan het, insluitende ʼn drie toe die bal na ʼn Cheetahs-lynstaan aan Cardiff se kant af uitgekom het.

♦ Die neerlaag beteken dat die Cheetahs, wat steeds in ʼn uitspeelposisie is met nog sewe van hulle 21 wedstryde wat gespeel moet word, nog net een keer oorsee kon wen.

Boonop het die Blues na vierde plek op die punteleer opgeskuif en is hulle nou net 12 punte agter die Cheetahs.

Dit was ʼn paar keer amper, maar die verlore ligapunte teen ʼn swak span soos onder meer Benetton kan hulle inhaal. Hulle het juis nog twee wedstryde wat oor die volgende twee weke op hulle toer voorlê teen die voorlopers in afdeling A, die Glasgow Warriors en teen die Ospreys, wat tweede laaste in die afdeling is.

Puntemakers –
Cardiff Blues (15) 25: Drieë: Rey Lee-Lo, Ellis Jenkins, Nick Williams. Doelskoppe: Jarrod Evans 2. Strafdoele: Evans 2.
Cheetahs – Drieë: Ox Nche, Uzair Cassiem. Doelskoppe: Fred Zeilinga 2. Strafdoele: Zeilinga 2.

Ulster vs Southern Kings

Is dit nie maar wat ʼn mens verwag het nie?

Hoe minder daar van die Southern Kings se 14de opeenvolgende neerlaag gesê word, hoe beter.  Die Oos-Kapenaars is Vrydagaand met 59-10 deur Ulster verneder.

Dit was, selfs vir hierdie sukkelspan, ʼn laagtepunt wat weer getoon het dat die spelers nie opgewasse is nie – en ook dat daar nie veel gedoen is of gedoen word  om die onaanvaarbare vlak van verdediging, hantering en algemene vaardighede en struktuur van die spelers te verbeter nie.

In hierdie donker dae vir Suid-Afrikaanse rugby is dit ʼn refleksie van die agteruitgang van die spel in die land.

Rustyd was die telling na drie verdoelde drieë reeds 21-0, maar daarna het die tuisspan nog ses keer gaan druk en vier keer verdoel.

Die Kings het in hulle 14 wedstryde reeds 73 drieë afgestaan en self net 26 gedruk, met ʼn gemiddelde verloortelling van 16-41.

Puntemakers –

Ulster (21) 59: Drieë: Craig Gilroy (3), Stuart McCloskey, Johnny McPhillips, Rob Lyttle (2), Kieran Treadwell, Darren Cave. Doelskoppe: John Cooney (7).
Kings (0) 10: Drie: Harlon Klaasen. Doelskop: Benhard Janse van Rensburg. Strafdoel: Masixole Banda

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Louw ·

Verstaan nie jul beriggewing nie. Cheetahs voor 14 – 0 en dan rustyd telling Cardiff voor met 15 – 10. Nou wie sou 4 waardevolle punte by Cheetahs verduister het?

Phillip ·

Dagsê Louw

Ons vra omverskoning vir die vingerfout. Die berig is gewysig.

Groete
Phillip Bruwer, nms Maroela Media

Niklaas ·

Daar is geen hoop vir die Kings span nie. Dan word hul afrigter glo oorweeg om by die Bok groep aan te sluit. Die Kings se geploeter is nie n goeie getuigskrif vir Davids nie

Piet ·

Die Cheetahs is geleenthede teen die einde gegee om die wedstryd te wen, maar die Cheetahs kon dit nie benut nie. Die skeidsregter kan beslis nie die skuld vir die verloor kry nie. Die Cheetahs se drymaal is elke keer gestop en is hulle ook in tru-rat deur die C Blues gedwing en ten spyte daarvan het hulle daarmee volhard. Duncan kon dit ook sien en kon alternatiewe opdrag soos bv om skrumopsie te neem( dit was immers daar waar Cheetahs oorheers het,_ na die personeel langs die veld stuur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.