Cheetahs verloor weer na puntlose tweede helfte

Nouja, tweede plek en ʼn tuisuitspeelwedstryd is nou vir die Cheetahs neusie verby – en die vraag bly waarom die span, soos so dikwels in die Pro14-reeks, nie sy voordeel en oorheersing in oorwinnings kon afrond nie.

Vrydagaand in Bloemfontein, teen Munster sonder van sy groot kanonne soos ondermeer CJ Stander, het die Cheetahs die eerste helfte oorheers. Hulle het rustyd met 17-7 voorgeloop, maar uiteindelik met 17-19 verloor.

Nie ʼn enkele punt in die tweede helfte nie, soos verlede week teen die Cardiff Blues, en ʼn totale ommeswaai van besit- en gebiedsoorheersing ná die omdraaislag het hulle gekos. Trouens, die Cheetahs het ná die eerste 30 minute in die tweede helfte minder as 28 persent van die besit gehad.

Die Vrystaters het uit die staanspoor probeer hardloop, maar die natterige veld en die blote planlose aanskuif van die bal van een speler na die ander, en ook ʼn paar ongevraagde kortskoppies, het teen Munster se goeie verdediging hoofsaaklik nie gewerk nie.

Toegegee, dit was Johan Goosen se eerste wedstryd in 18 maande, maar die skuld vir daardie eerste helfte moet in ʼn groot mate voor die Springbok se deur gelê word. Daar was weinig afwisseling in sy spel, en die een beweging was maar soos die vorige: voorspelbaar.

Francois Venter en Clayton Blommetjies het darem hier en daar vir ʼn sprankie gehalte agterlangs gesorg.

Voor het veral Uzair Cassie in die goeie eerstehelfte-vertoning van die pak uitgestaan. Ná rustyd het Munster se pak egter met klipharde rugby oorgeneem. Die skitterende Ierse skrumskakel Connor Murray het as plaasvervanger ʼn drie gaan druk die eerste keer dat hy aan die bal geraak het, en daarna agter die veel beter pak van Munster die wedstryd gedikteer.

Hy het ook van drie meter in eie gebied ʼn strafdoel van sowat 60 meter hoog deur die pale gelig om sy span voor te plaas..

Ja, dit was seker in die geheel ʼn bevredigende seisoen vir die Cheetahs, maar dit kon – en moes – veel beter gewees het.

Puntemakers –

Cheetahs 17 (17): Drieë: Clayton Blommetjies, Tian Meyer. Doelskoppe: Johan Goosen (2), Strafdoel: Goosen.
Munster (7) 19: Drie: Conor Murray. Doelskop: JJ Hanrahan. Strafdoele: Hanrahan (3), Murray.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.