Cheetahs was nooit in die wenprentjie nie

As jy 20-3 agter is en gedwing word om in jou eie gebied te speel, gaan jy nie sommer as wenspan van die veld stap nie.

Die logiese les moes die Cheetahs Saterdagaand in Galway leer toe hulle slegs Connacht se derde slagoffer in agt Pro14-wedstryde geword het. Die eindtelling was uiteindelik 23-15 en die Cheetahs het nooit gelyk of hulle sou wen nie – en hulle het boonop nie ʼn bonuspunt gekry nie.

Dit was die Cheetahs se derde opeenvolgende neerlaag teen ʼn Ierse span.

Hulle dissipline was (wéér) swak, hulle het eenvoudig te min aanvalsbesit gehad, en hulle agterlyn kon nie die opskietverdediging van die tuisspan verwerk nie. Die agterlyn was skuldig aan te skuins hardloop en daar was te veel hanteerfoute, en die gevaarlike driedrukker Makazole Mapimpi het op vleuel bitter min van die bal te sien gekry.

Die skitterende drie van die blitsige vleuel Niyi Adeolokun in die 12de minuut, toe hy Luther Obi met vaart en versnelling aan die buitekant geklop het, het aan die tuisspan ʼn verdiende vroeë voordeel gegee.

Rustyd was die telling slegs 13-3, maar die Vrystaters was eintlik selde in die prentjie. Connacht se tweede drie 11 minute ná die hervatting het die telling 20-3 gemaak.

Twee laat drieë in die laaste 13 minute het die Cheetahs na 15-23 laat naderkruip, maar daar kan min twyfel wees dat die beste span gewen het.

♦  Die Cheetahs is ondanks die neerlaag steeds derde op groep A se puntelys maar het teruggesak na sewende plek op die twee afdelings se gesamentlike puntelys. Hulle moet nog 13 wedstryde in die reeks speel.

Puntemakers –

Connacht (13) 23: Drieë: Niyi Adeolokun, Tom McCartney. Doelskoppe: Craig Ronaldson 2. Strafdoele Ronaldson 2, Steve Crosbie.
Cheetahs (3) 15: Drieë: Shaun Venter, Makazole Mapimpi. Doelskop: Fred Zeilinga. Strafdoel: Ernst Stapelberg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.