Cheetahs wen eerste CB-wedstryd van seisoen

Foto: Twitter.

Die Cheetahs het vanjaar al baie houe op die ken gevat: Hulle is ietwat onseremonieel uit die Pro16-reeks geboender, sleutelspelers het beserings opgedoen, ander het groener weivelde gaan soek en die wêreldwye Covid-19-pandemie het van hul wedstryde in die wiele gery.

Maar gisteraand het hulle hul eerste Curriebekerwedstryd van die seisoen gewen toe hulle die Pumas met 35–31 in Nelspruit verslaan het.

Die Pumas dra egter nie verniet die etiket van die moedigste span in die reeks om hul nekke nie en die Bloemfonteiners moes diep delf om dié een te wen.

Die Laevelders het die eerste drie van die kragmeting gedruk toe Simon Westraadt sy pad oor die doellyn gevind het. Vroeg in die tweede helfte het hulle met 17–7 voorgeloop.

Jimmy Stonehouse se span het egter hul voet vir net ’n oomblik van die versnelpedaal gehaal en die Cheetahs het lekker momentum deur hul rolmaalbewegings begin opbou. Voeg daarby Willie Engelbrecht se geel kaart vir ’n gevaarlike duikslag en ’n telbord-ommeswaai is bewerkstellig.

Skielik was die telling 28–17 in die Vrystaters se guns.

Maar Engelbrecht is ’n rateltaai speler en sy drie in die 74ste minuut van die wedstryd het die spreekwoordelike Puma-kat in die Cheetahs-duiwehok losgelaat.

Tian Meyer – die Cheetahs se plaasvervanger-skrumskakel én ’n oud-Puma – se drie kort daarna het egter die wedstryd finaal buite die bereik van die tuisspan geplaas.

Die span se feesviering het gewys wat hierdie drie vir hulle beteken. ’n Wen in ’n moeilike seisoen sal enige speler breed laat glimlag.

Op hul beurt het die Pumas gewys dat hulle saam met die groot honde kan blaf. Moenie verbaas wees as die Laevelders vorentoe nog ’n hele paar spanne die skrik op die lyf jaag nie; hulle sal net beter met hul stelskoppe moet korrel.

  • Puntemakers:

Cheetahs: Drieë: Andisa Nstila (2), William Small-Smith, Louis van der Westhuizen en Tian Meyer. Doelskoppe: Frans Steyn (5).

Pumas: Drieë: Simon Westraadt, Le Roux Roets, Daniel Maartens, Willie Engelbrecht en AJ le Roux. Doelskoppe: Devon Williams en Ginter Smuts (2).

  • Die Curriebeker-punteleer:
  1. Blou Bulle 35 punte
  2. Haaie 28 punte
  3. WP 26 punte
  4. Leeus 25 punte
  5. Cheetahs 21 punte
  6. Pumas 12 punte
  7. Griekwas 5 punte

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.