Cheetahs wil kanse lewend hou vir tuisuitspeelstryd

Die Cheetahs wil Vrydagaand teen Munster hul vierde opeenvolgende wedstryd wen – en dit gaan eintlik oor meer as om te wen.

Daar is die (tydelike) terugverwelkoming van Johan Goosen, Springboklosskakel en -heelagter, wat tot die einde van die Vrystaters se veldtog om die reeks te wen, vir hulle sal mag speel. Daarná vertrek hy Frankryk toe.

Tweedens is dit ook die afskeid van sewe spelers wat vir oulaas op die Vrystaatstadion vir die Cheetahs sal uitdraf – behalwe as daar dalk ʼn tuisuitspeelwedstryd is – en die hoofafrigter Rory Duncan. Hulle is almal op pad oorsee. Dit sluit die Springbok en kaptein van die Cheetahs, Francois Venter in.

Benewens die sewe wat hieronder genoem word, lyk dit of Venter se onderkaptein, Torsten van Jaarsveld, wat die span altyd in sy afwesigheid aangevoer het, ook dalk op pad is. Vier van hulle gaan in Wallis speel en drie in Japan.

Die vertrekkendes is Venter, Niel Marais, Carl Wegner, Clayton Blommetjies, Uzair Cassiem, Reniel Hugo en Tom Botha.

♦ Wat die Cheetahs se verwagte laaste tuiswedstryd Vrydagaand teen Munster betref, is die Ierse besoekers in die posisie waar hulle, weliswaar, nog deur die Cheetahs uit die tweede plek gedruk kan word.

Johann van Graan, Munster se afrigter, besef dit terdeë en het nege veranderinge aangebring aan die span wat verlede naweek met 39-22 teen die Kings gewen het.

Munster is ses ligapunte voor Venter-hulle, en moet oor twee weke in hul laaste wedstryd nog tuis teen Ulster speel. Dis ʼn Ierse derby, wat altyd onvoorspelbaar is en des te moeiliker omdat Ulster self na ʼn uitspeelplek in afdeling B mik.

Die Cheetahs speel daardie naweek hul laaste wedstryd in die Baai teen die Kings, wat hierdie Saterdag om 19:35 tuis teen die Cardiff Blues speel.

Klop die Cheetahs Vrydagaand vir Munster, sal dit van bonuspunte en die Ierse derby se uitslag afhang wie van die Vrystaters of Munster tweede in afdeling A sal eindig.

Die tweede spanne in die twee afdelings speel tuis teen die spanne in die ander afdeling wat derde eindig.

Spanne –

Cheetahs
Clayton Blommetjies, William Small-Smith, Francois Venter (kapt.), Niel Marais, Sibahle Maxwane, Johan Goosen, Tian Meyer, Uzair Cassiem, Oupa Mohoje, Paul Schoeman, Reniel Hugo, Carl Wegner, Johan Coetzee, Torsten van Jaarsveld, Ox Nche. Bank: Jacques du Toit, Charles Marais, Tom Botha, Rynier Bernardo, Henco Venter, Zee Mkhabela, Clinton Swart, AJ Coertzen
Munster
Simon Zebo, Andrew Conway, Sammy Arnold, Dan Goggin, Darren Sweetnam, JJ Hanrahan, James Hart, Brian Scott, Niall Scannell, John Ryan, Gerbrandt Grobler, Billy Holland, Peter O’Mahony (kapt.), Jack O’Donoghue, Robin Copeland. Bank: Rhys Marshall, Dave Kilcoyne, Stephen Archer, Dave O’Callaghan, Conor Oliver, Conor Murray, Ian Keatley, Rory Scannell.

Afskop: 19:35
Skeidsregter:
Mike Adamson (Skotland).
Assistentskeidsregters: Lloyd Linton (Skotland) en Ben Crouse (SA).
TV-skeidsregter: Shaun Veldsman (SA).

♦ Saterdagaand (19:35) is daar niks op die spel vir die Kings òf die Cardiff Blues in albei se voorlaaste wedstryd in die reeks nie, behalwe ʼn bietjie eer, veral vir die Kings.

Die Walliesers se ingesteldheid ná hulle verlede week in Bloemfontein deur die Cheetahs uit die uitspeelwedloop geskakel is, mag ʼn rol speel.

Ondanks hul redelike verbetering in die laaste paar wedstryde sal die Kings na verwagting nie genoeg kan bied om hul tweede sege in 20 wedstryde te behaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.