Cheika hou die Wallaby-snoeiskêr in die laai

Wanneer jou span  met 34-54 geklop word nadat jy in ʼn stadium met 6-54 agter was, sal ʼn mens verwag dat die koppe sal rol.

Maar wanneer jou spelerspens se rakke bra leeg is, moet jy maar in die koskas in die kombuis gaan krap.

Dus het die Wallaby-afrigter, Michael Cheika, net drie veranderinge aan die span gemaak wat in Sydney deur die All Blacks oorrompel is vir Saterdag se tweede Rugbykampioenskap- en Bledisloetoets in Dunedin.

Uit is die groentjie-rugbyligavleuel Curtis Rona, die Fidjiaanse senter Samu Kerevi en die slot Rory Arnold. In is Dane Haylett-Petty, nog ʼn Fidjiaan, Tevita Kuridrani en die veteraan-slot van 72 toetse, Rob Simmons.

Is dit ʼn verbetering?

Ja, want Haylett-Petty en Kuridrani verdedig beter as Rona en Kerevi en Simmons kan nie swakker vaar as Arnold nie.

Maar kan hulle die All Blacks klop? Nie op papier nie, tensy die All Blacks die een na die ander oomblikke van waansin beleef en hulself rooikaarte en geelkaarte op die hals haal.

Die Wallabies is in die spervuur oor hul verdediging, of eerder ʼn gebrek daaraan. Die verdedigingsafrigter Nathan Grey is in die spervuur, en die Cheika se kop word geëis.

Grey (en Cheika) was in hul speeldae van die hardste manne op die veld en het vir niks gestuit nie; hulle wou alles voor hulle platvee, maar as jou spelers se houding nie reg is nie, wanneer hulle uit hul verdedigingslyne beweeg, kan jy maar net langs die veld staan en kopskud.

Die Wallaby-span –
15. Israel Folau, 14 Dane Haylett-Petty, 13 Tevita Kuridrani, 12 Kurtley Beale, 11 Henry Speight, 10 Bernard Foley, 9 Will Genia, 8 Sean McMahon, 7 Michael Hooper (kaptein), 6 Ned Hanigan, 5 Adam Coleman, 4 Rob Simmons, 3 Allan Alaalatoa, 2 Stephen Moore, 1 Scott Sio. Bank: 16 Tatafu Polota-Nau, 17 Tom Robertson, 18 Sekope Kepu, 19 Rory Arnold, 20 Lopeti Timani/Jack Dempsey, 21 Nick Phipps, 22 Reece Hodge, 23 Curtis Rona.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tiger ·

Ai ek hoop regtig die Wallabies vaar beter Saterdag.Dis hartseer as jou span so sleg verloor!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.