Cheika se Wallabies-kopseer neem toe ná Fidji se oorwinning

ʼn Mens vermoed die Wallabies-afrigter Michael Cheika het ná Saterdagaand sommer ekstra hoofpyne bygekry ná ʼn seisoen waarin sy span net vier uit 13 toetse kon wen.

Dit is ʼn wenpersentasie van minder as 30,7%. Hy sal egter nie voor die Wêreldbeker-toernooi aanstaande September gepos word nie, het die Australiese rugbybase verseker.

Maar dalk is Cheika skielik onder meer druk ná Fidji se ietwat onverwagte oorwinning met 21-14 teen Frankryk.

Die rede? Fidji speel saam met die Wallabies in groep D waar Cheika-hulle ook te doene sal kry met Wallis, wat te oordeel na hul vertonings die afgelope maande skielik ʼn sterk aanspraakmaker op die wêreldtitel is.

Fidji, tans nog net tiende op die wêreldranglys, was verwoestend teen die Franse. Hulle het soos in die sewestoernooie, waar hulle met hul grootte en vaart ʼn verskrikking is, met aggressie gespeel, die flair behou waarvoor die Suidsee se spanne bekend is, gedissiplineerd ingeklim en die Franse onkant betrap.

Hulle het soos besetenes verdedig, die bal onder druk in spel gehou en deurgaans met selfvertroue gespeel.

Foutloos was dit allermins teen ʼn Franse span wat nie wou besgee nie maar waarskynlik oorgerus opgedaag en te laat wakker geskrik het.

Dit was nietemin  ʼn aangename verrassing en ook ʼn openbaring van wat die regte bestuur van rou talent kan vermag. Vol punte vir hul afrigter John McKee wat die Fidjiane op hulle groep klein eilandjies en dié wat in Europa speel, in ʼn baie effektiewe eenheid saamgesnoer het.

Hy rig hulle al sedert 2014 af en het ʼn week of so gelede voorspel dat Fidji kan verras. Dit was Fidji se eerste oorwinning in tien kragmetings met Frankryk.

♦ Ierland, wat ʼn week gelede die All Blacks in Dublin geklop het, het Saterdag met sy B-span die onoorwonne VSA van Gary Gold met 54-17 slae gegee en agt drieë teen twee gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.