Cheika stel sy vertroue in Wallaby-span

Daar is twee denkrigtings in rugby wanneer ʼn speler seerkry en ná ʼn paar maande weer beskikbaar is: òf hy kry dadelik sy plek terug, òf sy plaasvervanger wat in sy afwesigheid waargeneem het, behou sy plek.

Die Wallaby-afrigter, Michael Cheike, het op die tweede keuse besluit toe hy sy span bekend gemaak het vir Saterdag se derde Bledisloe-toets teen die All Blacks in Brisbane.

Daar is allerweë verwag dat veelsydige agterspeler Karmichael Hunt, wat maande lank op die beseringslys was vanweë ʼn enkelbesering, sy plek sou terugkry.

Maar Cheika het besluit om die senter Tevita Kuridrani in die opdrafspan te behou en Samu Kerevi weer op die bank in te sluit.

Waar die All Blacks vier veranderinge aan die span gemaak het wat die Bokke onlangs met 25-24 op Nuweland geklop het, het Cheika net een noodgedwonge skuif gemaak aan die beginspan wat die Pumas in Mendoza met 37-20 getroef het.

Die veteraanslot Rob Simmons vervang die groentjie Izack Rodda, wat beseer is.

Dit skep sekerheid, dit laat die spelers bymekaar staan, en dit laat die spelers hul lywe vir mekaar op die spel plaas.

Dis sulke bestanddele wat baie nodig gaan wees vir ʼn opdraande stryd vir ʼn span wat sy afgelope sewe wedstryde teen die All Blacks verloor het en 15 jaar laas die Bledisloebeker kon wen.

Wallabies –

Israel Folau, Marika Koroibete, Tevita Kuridrani, Kurtley Beale, Reece Hodge, Bernard Foley, Will Genia, Sean McMahon, Michael Hooper (kaptein), Jack Dempsey, Adam Coleman, Rob Simmons, Sekope Kepu, Tatafu Polota-Nau, Scott Sio. Bank: Stephen Moore, Tom Robertson, Allan Alaalatoa, Lukhan Tui, Ned Hanigan, Nick Phipps, Samu Kerevi, Henry Speight.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.