Cheika verander vir ‘regstel’-toets

argentina-logo-newVir die Wallabies is hulle tweede van die drie wedstryde in vanjaar se Rugbykampioenskap Sondagoggend in Mendoza meer as die gewone belangstelling werd. Die punteleer speel dié keer miskien selfs `n minder belangrike rol.

Nie dat die punteleer nié tel nie. Trouens, `n oorwinning oor die Argentynse Poemas ná laas jaar se moleste kan die Wallabies `n kans gee om aanstaande naweek teen Nieu-Seeland die titel te buit.

Maar die wen sal terselfdertyd regstel wat hulle verlede jaar verbrou het toe die Poemas die Wallabies 21-17 hok geslaan het.

Die Wallabies het toe nog gesteier na die eskapade(s) van Kurtley Beale wat sy spanmaats, die Wallabybestuur en die Australiese Rugbyunie omgekrap het. Dit het ongetwyfeld `n rol in hul neerlaag teen Argentinië gespeel. (Sien ondermeer die skakel http://rugby.maroelamedia.co.za/2014/10/09/aussie-skeibreker-se-loopbaan-aan-draadjie/ ).

♦ Die Wallaby-afrigter Michael Cheika het `n hele aantal skuiwe gemaak aan die span wat die Springbokke geklop het – en nie almal omdat hy wou nie. Die skrumskakel Will Genia, Matt Giteau (senter) en Rob Horne (vleuel) het skete, en Quade Cooper word op losskakel deur Bernard Foley vervang wat saam met die skrumskakel Nick Phipps – in Genia se plek – sal speel.

Matt Toomua vervang Giteau en Joe Tomane vir Horne.

Benewens dié vier veranderinge, kry David Pocock na sy vertoning in die laaste 30 minute (as agsteman) Sondag `n begin kans Sondag. Michael Hooper skuif bank toe. Ben McCalman speel agsteman in die plek van Scott Higginbottom, en die voorry word versterk met die insluiting van die vaskop Greg Holmes.

♦ Wat die wedstryd Sondag betref, is daar die werklikheid dat hierdie `n goeie Argentynse span is wat, as hy sy foute kan beperk, weer kan verras. Die Poemas het goed teen die All Blacks gelyk maar sal met `n tikkie groter afwisseling en ondernemingsgees moet speel om te kan wen.

Bloot die bal teen die agterlyn afskuif sal nie help nie, en `n mens is bevrees dat daar nie werklike spelbrekers in die span is nie.

Maar hulle speel ook teen `n Wallabyspan wat, onanks sy sege laasweek, eintlik `n nuwe eenheid is. Dit gaan inderdaad ‘n interessante stryd afgee.

Spanne – 

Argentinië: 15 Santiago Cordero, 14 Gonzalo Camacho, 13 Matias Moroni, 12 Juan Pablo Socino, 11 Juan Imhoff, 10 Nicolas Sanchez, 9 Martin Landajo; 8 Facundo Isa, 7 Juan Martin Fernandez Lobbe, 6 Javier Ortega Desio, 5 Tomas Lavanini, 4 Manuel Carizza, 3 Ramiro Herrera, 2 Agustín Creevy (kaptein), 1 Marcos Ayerza. Bank: 16 Santiago Iglesias Valdez, 17 Nahuel Tetaz Chaparro, 18 Matias Diaz, 19 Matias Alemanno, 20 Leonardo Senatore, 21 Tomas Cubelli, 22 Santiago Gonzalez Iglesias, 23 Lucas Gonzalez Amorosino.

Australië:– Israel Folau; Adam Ashley-Cooper, Tevita Kuridrani, Matt Toomua, Joe Tomane; Bernard Foley, Nick Phipps; Ben McCalman, David Pocock, Scott Fardy; Rob Simmons, Will Skelton; Greg Holmes, Stephen Moore (k), James Slipper. Bank: Tatafu Polota-Nau, Scott Sio, Sekope Kepu, Dean Mumm, Michael Hooper, Nic White, Quade Cooper, Kurtley Beale.

Afskop: Sondag 00:40 (SA tyd)

Skeidsregters: Jaco Peyper (Suid-Afrika)
Assistente: Chris Pollock (Nieu-Seeland), Stuart Berry (Suid-Afrika)
TV-skeidsregter: Shaun Veldsman (Suid-Afrika)

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.