Cheslin dalk die vonk wat Toulon benodig

Suid-Afrika se Cheslin Kolbe. Foto: Christophe Simon/AFP.

Dit gaan tans nie goed met Toulon in die Top 14-liga nie.

Die sterbelaaide Franse klub geniet tans houtlepelstatus op die punteleer – 31 punte weg van Bordeaux Bègles in die eerste plek – terwyl hulle die afgelope naweek ook teen Castres (22 – 10) vasgeval het.

Covid-19 het weliswaar hul trein al ’n paar keer ontspoor, maar die span se ondersteuners is hoegenaamd nie tevrede met die huidige stand van sake nie; die klub was immers ’n hele paar keer die beste span in Europa.

Tog is Cheslin Kolbe oorgehaal om die bordjies te verhang.

Die vlugvoetige Spingbokvleuel is een van die beste spelers in Europa en hy het vroeër Toulouse vir Toulon verruil.

“Ek beskou dit eintlik as ’n geleentheid, terwyl dit ongetwyfeld ook ’n karaktertoets is – nie net vir my nie, maar ook vir die hele span. Dit is nou ons verantwoordelikheid om te wys waartoe ons in staat is. As ’n span kan ons met baie beter vertonings vorendag kom,” het Kolbe gesê.

Die 28-jarige Suid-Afrikaner kan die nodige vonk vir die Toulon-kruitvat verskaf.

Hy is waarskynlik die wêreld se beste vleuel en selfs met beperkte geleenthede op die aanval in die Springboktrui vind hy steeds sy pad na die doellyn.

Hy het belangrike drieë in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland gedruk, terwyl sy drie in die beslissende toets teen die Britse en Ierse Leeus die wedstryd in Suid-Afrika se guns geswaai het.

Daarbenewens is hy vreesloos op die verdediging terwyl hy ook op skrumskakel kan uithelp wanneer een van die no. 9-spelers nie op die veld kan wees nie.

“Ons kan nie bekostig om moed te verloor nie want hierdie is ’n trotse klub met ’n ryke geskiedenis. Harde werk is ons voorland en ons sal vir die volle 80 minute moet speel; nie net een helfte nie.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.