Cheslin op vleuel en Frans Malherbe op die bank

Cheslin Kolbe op vleuel teen die Bulls (Foto: thestormers.com)

Cheslin Kolbe – op vleuel teen die Bulls (Foto: thestormers.com)

Verlede jaar se mede-kaptein van die Stormers en die vaskopstut van die Springbokke by die 2015-Wêreldbekertoernooi, Frans Malherbe, is nie in die Stormers se beginspan vir hul eerste Superwedstryd van die seisoen Saterdagaand teen die Bulls op Nuweland nie.

Die voormalige Junior Springbok Wilco Louw, wat reeds vir die Stormers uitgedraf het en ook in 36 wedstryde vir die WP gespeel het, is in die beginspan en Malherbe op die bank.

SP Marais, wat verlede jaar by die Bulls as heelagter moes kom uithelp nadat hy sy kontrak by die Kings verloor het en die Bulls toe met die besering van hulle voorste heelagter Warrick Gelant in die knyp was, is deur die afrigter Robbie Fleck vir die Bullsstryd gekies.

Marais, wat goeie rugby in sy tyd by die Bulls gespeel het, se tydelike kontrak is egter nie ná die Curriebekerseisoen deur die Bulls verleng nie. Dit sal sy eerste wedstryd vir die Stormers wees.

Hy speel in die opwindende Cheslin Kolbe se plek. Kolbe, met sy yslike hart, is na vleuel toe verskuif waar hy met sy 72 kg die veel groter en sterker Travis Ismaiel (94 kg) moet hokslaan.

Op losskakel het Fleck die seun van die legendariese Bokvleuel Jean-Luc du Plessis bo nog ʼn Springbok, die afrigter van die Sharks Robert du Preez, se seun gekies. Laasgenoemde, ook Robert, is op die bank.

Du Plessis se skakelmaat is die ervare Springbok Jano Vermaak.

EW Viljoen, op buitesenter, speel soos Marais die eerste keer vir die Stormers. Die haker Ramone Samuels wat drie keer vir die Lions in die Superreeks gespeel het, en ook Dan Kriel wat van die Bulls afkomstig is, is op die bank en die ander twee nuwelinge in die Stormers se 23-tal.

Kriel se tweelingbroer, die Springbok Jesse, speel Saterdag vir die Bulls heelagter.

Stormers –
SP Marais, Cheslin Kolbe, EW Viljoen, Damian de Allende, Dillyn Leyds, Jean-Luc du Plessis, Jano Vermaak, Nizaam Carr, Siya Kolisi (kapt.), Rynhardt Elstadt, Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Wilco Louw, Bongi Mbonambi, JC Janse van Rensburg. Bank: Ramone Samuels, Oli Kebble, Frans Malherbe, Chris van Zyl, Sikhumbuzo Notshe, Dewaldt Duvenage, Dan Kriel, Robert du Preez.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rudel du Preez ·

Die Stormers span is beslis nie sterker as die Bulle nie,dit is die Bulle se beste kans vir n wen op Nuweland in baie jare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.