Cheslin sê senuwees knaag vóór eindstryd

Cheslin Kolbe in aksie vir Toulouse. Foto: Pascal Pavani/AFP.

Op die vooraand van die groot Europese eindstryd tussen Toulouse en La Rochelle op Twickenham het die Springbok-vleuel, Cheslin Kolbe, aangedui dat die senuwees maar lekker knaag.

Die 27-jarige blits was een van die Suid-Afrikaners se sterre in hul suksesvolle veldtog om die Web Ellis-trofee in 2019 in Japan omhoog te hou. Hy het veral in die eindstryd geskitter en sy vinnige voetwerk is met ’n welverdiende drie teen Engeland beloon.

Hoewel die Wêreldbeker-sege waarskynlik die hoogtepunt van sy loopbaan is, het hy in ’n onderhoud verklap dat hy snaaks genoeg meer op sy senuwees is vir die komende La Rochelle-stryd.

“Ek was al bevoorreg genoeg in my loopbaan om in ’n paar eindstryde te speel. Ek het met my vrou gesels en om die een of ander rede sorg die komende eindstryd vir meer senuwees as die Wêreldbeker-eindstryd,” het Kolbe gesê.

“Die opgewondenheid kan egter ’n goeie ding wees. Ek moet nou net seker maak dat ek goed voorberei.”

Toulouse – wat sal poog om die eerste klub in Europese geskiedenis te word om vyf keer met die titel weg te stap – het laas in 2010 oorwinning in die kompetisie gesmaak. Volgens Kolbe kan die ondersteuners se opgewondenheid en verwagtinge dalk tot die senuwees bydra.

“Daar is ongetwyfeld druk op ons, maar ons het die geleentheid om die geskiedboeke te herskryf en ek sien baie daarna uit.”

Die Springbok-ster meen dat dissipline en verdediging van sleutelbelang in die eindstryd sal wees, maar dat aanvalsgeleenthede met albei hande aangegryp sal word.

Kolbe het al ongetwyfeld sy stempel in Europese rugby afgedruk en hy is in 2019 as die Top-14-liga se speler van die seisoen aangewys.

“Ek kon dit nie regkry sonder die ondersteuning van my spanmaats nie. Hulle verdien eintlik al die lof, want as hulle nie vir my geleenthede as vleuel geskep het nie, sou ek nie vandag hier gestaan het nie,” het hy destyds gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.