Chiefs druk ses keer voor rustyd, maar loop bonuspunt mis

Ses drieë in die eerste helfte en ʼn rustydtelling van 42-0 was nie genoeg om aan die Chiefs  ʼn bonuspunt teen die Highlanders te besorg nie.

Die Chiefs kon ná rustyd net ʼn strafdoel aanteken terwyl die Highlanders dié helfte gebruik het om hul teenstanders dronk te hardloop. Hulle het vier drieë gedruk en die Chiefs het met 45-22 gewen.

Die Highlanders was amptelik die “tuisspan”, maar die wedstryd is in Suva in Fidji gespeel ‒ en dáár is die Chiefs verreweg die toeskouers se gunstelingspan.

Die Chiefs het seepglad weggespring, daarmee voortgegaan en die oorblufte Highlanders met kliniese hardlooprugby rustyd deurmekaar kleedkamer toe laat gaan. Hulle het egter self met swak verdediging tot hulle probleme bygedra.

En toe is dit onverwags die Highlanders se beurt! Dit was ʼn onbegonne taak, maar hulle het gewys waarom hulle as vierde beste Nieu-Seelandse span net soveel ligapunte as die Lions het.

Die Chiefs het met hul vier wenpunte nou na 45 ligapunte opgeskuif, maar die Highlanders sal in hul oorblywende twee wedstryde teen die Crusaders (weg) en die Melbourne Rebels (tuis) moet uithaal om onder meer die Rebels en die Jaguares/Lions uit die kwarteindronde te hou.

Puntemakers ‒

Highlanders (0) 22: Drieë: Teihorangi Walden (2), Aki Seiuli, Shannon Frizell. Doelskop: Lima Sopoaga.
Chiefs (42) 45: Drieë: Solomon Alaimalo, Toni Pulu (2), Karl Tu’inukuafe, Luke Jacobson, Sean Wainui. Doelskoppe: Damian McKenzie (6). Strafdoel: McKenzie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.