Chiefs klop Jaguares in doodsnikke

Te Toiroa Tahuriorangi (Foto; Chiefs)

ʼn Paar weke gelede het die Chiefs na die kanonvoer in die Nieu-Seelandse afdeling van die Superreeks gelyk. Maar ná hulle gelykop teen die Hurricanes gespeel het en die Bulls verlede week op Loftus verrinneweer het, het hulle ook gisteraand die Jaguares in Buenos Aires geklop.

Met drie minute se speeltyd op die horlosie in Buenos Aires oor, was die besoekers 23 – 27 agter. Te Toiroa Tahuriorangi is waarskynlik ʼn speler wat jou spanmaat nie sommer in ʼn 30 Seconds-vraag sal regraai nie, maar vandag is hy die naam op almal se lippe in Waikato.

Ná die Nieu-Seelanders ʼn rustydvoorsprong van 11 punte in die tweede helfte weggegooi het, het hy die kastaiings uit die vuur kom krap. Die skrumskakel se drie het die wedstryd in die 78ste minuut vir die besoekers beklink, Damian McKenzie het die doelskop oorgeklits en die Chiefs het 30 – 27 gewen.

Die Chiefs is weliswaar steeds laaste op die Nieu-Seelandse punteleer, maar daar is beslis besig om ʼn herlewing plaas te vind.

Hulle het volgende week ʼn loslootjie, terwyl die Jaguares teen die Bulls in Pretoria speel.

Puntemakers:

Chiefs: Drieë: Damian McKenzie, Tumua Manu, Te Toiroa Tahuriorangi. Doelskoppe: Damian McKenzie (3). Strafskoppe: McKenzie (3).

Jaguares: Drieë: Matias Maroni, Joaquin Tuculet, Pablo Matera. Doelskoppe: Joaquin Diaz Bonilla (3). Strafskoppe: Diaz Bonilla (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.