Chiefs speel Cheetahs kis ná groot agterstand

As ʼn span ná 22 minute met 24-0 voor is en daarna net drie punte kan aanteken om met 27-41 te verloor, is daar fout.

En dis wat die Cheetahs Saterdag op hul tuisveld teen die Chiefs gedoen het.

Die Chiefs het met die soort hantering en ondersteunende spel wat ʼn mens van ʼn voorste Nieu-Seelandse span verwag die agterstand ingehaal en uiteindelik oortuigend gewen.

Die Cheetahs was self nie sleg nie, maar dit is duidelik dat die gaping teenoor die Kiwi’s nog nie heeltemal ingehaal is.

Teen rustyd het die besoekers reeds twee verdoelde drieë ingehaal en ná rustyd het hulle nog vier bygevoeg om met ses drieë teen drie ook ʼn bonuspunt te verdien.

Raymond Rhule was weer uitstekend en is seker nou die land se voorste vleuel; Ox Nché het sy aandele stellig laat styg met ʼn uithaler-vertoning, en Paul Schoeman was weer baie goed. Torsten van Jaarsveld was die veld vol en Armand Koster en Oupa Mohoje het self uitgehaal.

Maar die gladde hantering en verstandhouding van in ʼn gaping hardloop waar ʼn spanmaat jou dan met goeie tydsberekening wegstuur, was nie daar nie.

Die Chiefs was baie goed, maar nie asembenemend briljant nie. Hulle was net effektief. Geduld, ondersteuning en oorspelers wat saam met die agterspelers agter die afbreekpunte met vinnige hande die man-oor help bewerkstellig en snybewegings aanvoor, het die Chiefs sien naderkruip  en uiteindelik die wedstryd oorheers.

Die Vrystaters het nou ná sewe wedstryde slegs twee wedstryde, teen die Bulls en die Sunwolves, gewen.

Puntemakers –

Cheetahs (24) 27: Drieë: Raymond Rhule, Torsten van Jaarsveld, Francois Venter. Doelskoppe: Niel Marais 3. Strafdoele: Marais 2.
Chiefs (14) 41: Drieë: Toni Pulu 2, Tawera Kerr-Barlow, James Louw, Shaun Stevenson, Hika Elliot. Doelskoppe: Aaron Cruden 4. Strafdoel: Cruden.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Scalla ·

Ons verloor Saterdag, het mos klaar gewen nog voor die game begin het, dit kan hul n plek kos in die kompetisie

Boetman ·

Hulle lyk nie fiks genoeg nie. Speel elke keer net die eerste helfte goed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.