Chiefs stuit Reds-aanslag in Hamilton

Die Chiefs se Marty McKenzie. Foto: Facebook.

Wanneer ’n Australiese en Nieu-Seelandse span (wat onderskeidelik vierde en vyfde op hul onderskeidelike puntelere is) mekaar aanvat, is dit soos wanneer twee ongewilde skoolboelies agter die snoepie begin vuiste swaai: Jy stel nie werklik belang nie, maar tog verdien sommige van die verdwaalde houe so ’n bietjie applous.

Die Chiefs het vandag met 19-13 in ’n taamlik leë stadion in Hamilton gewen, en al het hulle vroeër met die meeste van die momentum gespog, het die Reds stelselmatig terugbaklei om vir ’n paar benoude oomblikke te sorg.

Die Kiwi’s het ’n rustydvoorsprong van 19-6 geniet; dít te danke aan drieë deur Pita Sowakula, Atunaisa Mola en Etene Nanai Seturo.

Tog was dit die Reds wat in die tweede helfte die oorhand gekry het en hulle het die tuisspan se doellyn behoorlik gepeper in hul soektog na hul eerste sege teen Nieu-Seelandse spanne in 14 probeerslae.

In die laaste tien minute het die Reds aanval op aanval geloods, maar anders as die Romeine in ’n Asterix en Obelix-strokiesprent, het die Chiefs se verdediging gehou om uiteindelik met ses punte te wen.

Puntemakers:

Chiefs: Drieë: Pita Sowakula, Atunaisa Mola en Etene Nanai Sturo. Doelskoppe: Marty McKenzie (2).

Reds: Drie: Taniela Tupou. Doelskop: Bryce Hegarty. Strafskoppe: Hegarty (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.