Christian Leali’ifano – ʼn vegter wat nie gaan lê nie

Christian Leali’ifano – in die Superkwarteind na beenmurgoorplanting (Foto Facebook Rugby Pass)

Dis ʼn fyn lyn te om te loop, om te sorg dat emosie nie die aandag van ʼn span aftrek nie.

Maar in die geval van die veelsydige Brumbies-agterspeler Christian Leali’ifano kan dit ʼn positiewe invloed op sy beleërde span hê wanneer hulle Vrydag in Canberra in die kwarteindronde van die Superrugby-reeks teen die Hurricanes speel.

Jare gelede, in 1999 op Kingspark in Durban, het die Sharks ’n duur prys in die eindstryd van die Curriebekerreeks betaal toe hulle afskeid van Ian McIntosh (afrigter), Gary Teichmann (kaptein) en Henry Honiball en André Joubert  geneem het.

Die fokus was voor die eindstryd veral op hul swanesang. Hulle was almal legendes en weke voor die wedstryd was dit Mac voor en Mac agter, Gary voor en Gary agter en Jouba voor en Jouba agter. Maar hulle is met 32-9 deur Laurie Mains se Lions geskok.

Ek het Christian Leali’ifano ʼn hele paar jaar gelede ná ʼn Superwedstryd teen die Cheetahs ontmoet. Plat op die aarde en beskeie, soos die meeste rugbyspelers van Samoaanse afkoms.

ʼn Denker van die spel, een van daai ouens aan wie jy aan jou suster wil voorstel. Hy wou meer weet van die Bokke, oor wat in die land aangaan.

Hy is in Nieu-Seeland gebore en sy gesin het later na Melbourne verhuis waar hy vir die Australiese o.19-span gespeel het wat in  2006 die Wêreldkampioenskap gewen het.

Hy het in 2008 die eerste van sy 117 wedstryde vir die Brumbies gespeel (ook in 19 toetse vir die Wallabies) voordat die noodlot toegeslaan het – eers in 2010 toe hy sy knieligamente geskeur het sy loopbaan aan ʼn draadjie gehang het. Hy het vir Waikato in die Nieu-Seelandse provinsiale reeks gespeel om sy knie weer op te bou, om sy selfvertroue terug te kry.

En toe, verlede jaar in Augustus, is hy met leukemie gediagnoseer.

Maar Leali’ifano het nie gaan lê nie, hy het teruggeveg en ná maande van chemoterapie en ʼn beenmurgoorplanting van sy suster Sally het hy vasgebyt, aangehou en deurgedruk.

Nou is hy op die bank vir die stryd teen die Hurricanes nadat hy in Julie die eerste keer weer gespeel het.

Die Brumbies-afrigter, Stephen Larkham, wil sy veggees en deursettingsvermoë gebruik om die span aan te spoor, om te wys dat enigiets moontlik is.

Ja, dit kan boemerang, maar as Leali’ifano op die veld draf, is ʼn veldslag gewen, al het die Brumbies byna geen kans om die Hurricanes te ontspoor nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.