CJ Stander in Britse en Ierse Leeus se toerspan na Nieu-Seeland

CJ Stander in sy splinternuwe Leeustrui (Foto: Twitter @munsterrugby)

Ierland en Munster se Suid-Afrikaanse flank CJ Stander is ingesluit in die span van die Britse en Ierse Leeus wat oor ses weke hulle eerste wedstryd op die Nieu-Seelandse toer speel.

Stander, een van dié sterre in die afgelope Sesnasiesreeks, is die eerste Afrikaanssprekende speler wat die tradisieryke Britse Leeuspan haal.

Die span sal aangevoer word deur Sam Warburton, wat ook kaptein was van die 2013-span na Australië. Hy word daarmee saam met die legendaries Engelse slot Martin Johnson (1997 en 2001) die enigste speler wat die span op twee toere lei.

Warburton sal poog om die eerste kaptein van die Leeus sedert 1971 en slegs die tweede ooit te word wat ʼn reeks teen Nieu-Seeland wen

Daar is, soos altyd met spankeuses en veral in hierdie geval waar spanne van vier lande vir die span in aanmerking kom, ʼn hele paar verrassings. Een van hulle is dat die Engelse kaptein, Dylan Hartley, nie die span gehaal het nie. Sy adjudant Jamie George wat merendeels op die bank gesit het, is wel onder die drie verkose hakers.

Hartley, omstrede weens sy humeur en algemene benadering tot die spel wat hom al talle lang skorsings op die hals gehaal het, word daarmee die derde opeenvolgende kaptein van Engeland wat nie vir ʼn Leeustoerspan gekies is nie. Die ander twee is Steve Borthwick en Chris Robshaw.

Warburton, wat in die afgelope Britse seisoen ná beserings gesukkel het om sy vorm te herwin, het in die Sesnasiesreeks die Walliese kapteinskap afgestaan. Hy is tans weer beseer maar sal betyds vir die toer fiks wees.

Engeland, die Sesnasieskampioen, het 16 spelers in die spelersgroep van 41; Wallis het 12,  Ierland 11 en daar is net twee Skotte in die span

Gatland het die groot groep van 41 spelers verduidelik. “Dit is ʼn besonder taai toer. Ons wedstryde op weeksdae is strawwer as in die verlede en ons kan nie bekostig om sonder spelers op toer te sit nie.”

Die span speel teen al vyf die Superspanne, die Blues, Chiefs, Crusaders, Highlanders en Hurricanes, en ook teen ʼn Maorispan en ʼn vyftiental wat uit die Nieu-Seelandse unies gekies word.

Britse en Ierse Leeus –

Agterspelers
Heelagter/vleuels:
 Elliot Daly (Eng), Anthony Watson (Eng), Lee Halfpenny (Wal), Liam Williams (Wal), George North (Wal), Stuart Hogg (Skot), Jack Nowell (Eng), Jared Payne (Ier), Tommy Seymour (Skot)
Senters: Ben Te’o (Eng), Jonathan Davies (Wal), Owen Farrell (Eng), Robbie Henshaw (Ier), Jonathan Joseph (Eng)
Losskakels: Jonathan Sexton (Ier), Dan Biggar (Wal)
Skrumskakels: Conor Murray (Ier), Rhys Webb (Wal), Ben Youngs (Eng)

Voorspelers
Losvoorspelers: Taulupe Faletau (Wal), Billy Vunipola (Eng), Sam Warburton (Wal, kapt.), Sean O’Brien (Ier), CJ Stander (Ier), Ross Moriarty (Wal), Peter O’Mahony (Ier), Justin Tipuric (Wal)
Slotte: Maro Itoje (Eng), Alun Wyn Jones (Wal), Iain Henderson (Ier), George Kruis (Eng), Courtney Lawes (Eng)
Vaskopstutte: Tadhg Furlong (Ier), Dan Cole (Eng), Kyle Sinckler (Eng)
Hakers: Jamie George (Eng), Rory Best (Ier), Ken Owens (Wal)
Loskopstutte: Mako Vunipola (Eng), Joe Marler (Eng), Jack McGrath (Ier)

Bepalings –

3 Junie: vs Provinsiale Unie XV, Whangarei
7 Junie: vs Blues, Auckland
10 Junie: vs Crusaders, Christchurch
13 Junie: vs Highlanders, Dunedin
17 Junie: vs Maori All Blacks, Rotorua
20 Junie: vs Chiefs, Waikato
24 Junie: 1ste toets vs Nieu-Seeland, Auckland
27 Junie: vs Hurricanes, Wellington
1 Julie: 2de toets vs Nieu-Seeland, Wellington
8 Julie: 3de toets vs Nieu-Seeland, Auckland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.