CJ Stander kry sy groot kans

CJ Stander – kry sy groot kans (Foto: Facebook CJ Stander)

Toe CJ Stander ʼn paar jaar gelede besluit het om sy rugbybande met die Bulls te verbreek om sy horisonne by Munster in Ierland te verbreed, het hy sekerlik nooit kon dink dat hy eendag in die Britse en Ierse Leeus se toetsgroep vir ʼn deurslaggewende toets teen die All Blacks in Wellington sou wees nie.

Ja, sy mikpunt was sekerlik om die Ierse toetsspan te haal, om tong uit te steek omdat hy glo as te klein beskou is. Maar sou hy hier sulke kanse gekry het?

Stander is Woensdag vir sy inklimspel en verdediging beloon toe hy op die bank gekies is. Hy sal straks in die tweede helfte opgestuur word om bresse te slaan, om die bal te dra, om kanse vir sy spanmaats te skep.

Hy was Dinsdag teen die Hurricanes byna uit op sy voete, hy het reeds alles op toer gegee, die meeste keer die bal gedra, die meeste duikslae uitgevoer. Nog net een keer op hierdie toer, dalk ʼn tweede keer in volgende Saterdag se derde toets.

Ná die eerste toets, wat die All Blacks met 30-15 in Auckland gewen het, het die Leeus se afrigter, Warren Gatland, gesê hy soek meer vuur. Die Engelse slot Maro Itoje moet dit in George Kruis se plek verskaf en die toerkaptein, Sam Warburton, moet wys waarom daar vertroue in hom gestel is nadat Peter O’Mahony in die eerste toets voorgedraf het.

Kan hulle die vonk aansteek?

Ja, die Leeus se bank lyk heelwat sterker, met Courtney Lawes (vurige slot), Stander, Ben Te’o en die vlugvoetige Jack Nowell ook daar. Dit was een van die toerspan se leemtes in die eerste toets, dat die bank nie ʼn verskil kon maak nie.

Agterlangs dra Johnny Sexton die nr. 10-trui en skuif Owen Farrell binnesenter toe. Dit was voor die toer een van die groot besprekingspunte. Nou is dit ʼn werklikheid.

Wees maar verseker, dié span gaan nie onnodig waag nie, hulle gaan hul foute tot die minimum probeer beperk; die pak gaan hul primêre funksies in die vaste fasette doen, die skrumskakel, Conor Murray, en Sexton gaan skop, skop en skop. Die res van die span gaan têkkel, têkkel en têkkel.

Britse en Ierse Leeus –

15 Liam Williams, 14 Anthony Watson, 13 Jonathan Davies, 12 Owen Farrell, 11 Elliot Daly, 10 Johnny Sexton, 9  Conor Murray, 8  Taulupe Faletau, 7 Sean O’Brien 6  Sam Warburton (kaptein), 5 Alun Wyn Jones, 4 Maro Itoje, 3 Tadhg Furlong, 2 Jamie George, 1 Mako Vunipola. Bank: 16. Ken Owens, 17 Jack McGrath, 18 Kyle Sinclair, 19 Courtney Lawes, 20 CJ Stander 21 Rhys Webb, 22 Ben Te’o, 23 Jack Nowell.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaybee ·

Baie geluk CJ, jy verdien dit beslis. Wys die All Blacks van watter stoffasie jy gemaak is. Hoop julle gee die Blacks opdraande.

vrikie ·

Dit kan dalk biki beter gaan met die Leeus saterdag maar om die All Blacks te troef het hulle heelwat meer vuurkrag en flair nodig, hulle kon nie eers die Hurricanes se B span klop nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.