Cobus sal Faf se skoene kan volstaan

Cobus Reinach. (Kyodo News via AP)

Die moontlikheid bestaan dat Faf de Klerk die Springbokke se Europese avontuur teen Wallis, Skotland en Engeland weens ’n heupoperasie kan misloop.

Ja, mense kla deesdae baie oor sy alewige geskoppery, maar in 2019 was hy die gewildste speler onder Maroela Media-lesers ná die Suid-Afrikaners se suksesvolle Wêreldbeker-veldtog in Japan.

Om dinge in perspektief te plaas: Hy het meer stemme as Cheslin Kolbe en Duane Vermeulen gekry; spelers wat hul stempel behoorlik in die eindstryd teen Engeland afgedruk het.

Daarbenewens beïndruk hy gereeld met sy dapperheid en werkverrigting – hetsy vir die Springbokke of vir die Sale Sharks – terwyl teenstanders weet dat die blonde buksie vir niemand sal terugstaan nie.

Hy skop dalk hopeloos te veel, maar hy is steeds ’n belangrike stuk wat die Springbok-legkaart voltooi.

Indien hy egter nie vir die Suid-Afrikaners tydens hul jaareindtoer beskikbaar is nie, kan Cobus Reinach nadergetrek word om sy skoene in die beginspan vol te staan.

En daar is waarskynlik ’n hele paar internasionale spanne wat graag ’n skrumskakel van die 31-jarige oudleerder van Grey Kollege se kaliber in hul beginvyftiental sal wil hê.

Reinach het in sy 18 toetse vir die Springbokke met sy spoed en driedrukvermoë beïndruk, terwyl hy die rekordboeke tydens die Wêreldbeker-toernooi in Japan herskryf het.

Op pad na sy driekuns teen Kanada. (Kyodo News via AP).

Sy drie drieë binne 20 minute teen Kanada is die vinnigste driekuns in Wêreldbeker-geskiedenis en een van sy pogings is terstond vir Wêreldrugby se drie van die jaar benoem.

Benewens sy aanvallende vaardighede kan hy ook skop; iets wat die Springbok-bestuur waarskynlik van hom sal verwag.

Die onlangse SA A-wedstryd teen die Blou Bulle gedurende die Britse en Ierse Leeus-toer is eintlik ’n perfekte voorbeeld van wat Reinach in ’n Springbok-trui kan vermag: Sy diens aan die agterlyn was suiwer, hy het sy skopvoet oordeelkundig ingespan en hy het ’n sleutelrol in Aphelele Fassi se drie gespeel.

O ja, dan het hy ook genoeg kennis van Europese toestande – hy speel immers tans vir Montpellier in Frankryk, terwyl hy ook vroeër in 76 kragmetings vir Northampton Saints in Engeland in aksie was.

Daar is waarskynlik ’n hele paar skrumskakels wat swakker rugby as Cobus Reinach speel.

  • Die Springbokke se Europese bepalings:

6 November teen Wallis

13 November teen Skotland

20 November teen Engeland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Androclus ·

Ja, mense kla deesdae baie oor sy alewige geskoppery, maar in 2019 was hy die gewildste speler onder Maroela Media-lesers ná die Suid-Afrikaners se suksesvolle Wêreldbeker-veldtog in Japan.SO IS DIE MENS ALTYD NET GOED OM TE KRITISEER.

Harley Davidson ·

Ek dink Faf doen wat die afrigter vir hom sê om te doen pleks buig hy die knie wanneer die volkslied gespeel word om sy misnoeë te wys oor die span se verfoeilike kwota sisteem gebaseer net op velkleur

Chris dupreez ·

Nou wonder ek of Faf se heup besering gekom het van daai een been wat hy gereeld so skuins moes trap om te skop. ( tong in die kies )

Tubac ·

Beslis n beter opsie. Miskien sal die agterlyn nou kan begin hardloop.

Anoniem ·

Uiteindelik kry die nommer 1 skrumskakel kans om te speel.

Kirst ·

Ek kyk onlangs ‘n ontleding van hoe die Bokke dit reggekry het om NZ te klop in die laaste toets. Ons gaan deur vyf of ses fases en dan skop Faf die bal en storm ons op en wen gewoonlik veld. Ons gebruik ook ‘n 1-2-3-2 samestelling vir verdediging (wat baie noordelike halfrond spanne voor ons gebruik het) en ons het groot, sterk spelers. Dis dieselfde wedstrydplan waarmee ons die WB gewen het twee jaar gelede, en dis die span se wedstrydplan – nie Faf s’n nie. Dis nie mooi om na te kyk nie, en maak ons as ondersteuners warm onder die kraag, maar dit het ons omskep van ‘n verloorspan waarvoor ons skaam was na ‘n wenspan en wereldkampioene.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.