Cockerill se afdanking `n les om te leer

Richard Cockerill. (Foto: The Independent)

Richard Cockerill. (Foto: The Independent)

Elke afrigter het sy rakleeftyd.

Richard Cockerill, wat die leisels in 2009 as Leicester se direkteur van rugby oorgeneem het nadat Heyneke Meyer besluit het om na Suid-Afrika terug te keer, het dit Maandag agtergekom toe hy die trekpas gekry het.

Dit is soms nodig dat `n afrigter ‘n hardekwas-houding soos Cockerill moet hê, maar dan moet die span aan die wenkant bly en die spelers daarmee verlief neem. Eddie Jones het dit by Engeland reggekry, hy kom voor as `n bulhond, maar wees verseker, daar is `n sagte kant van Jones waarvan die spelers hou.

Op die oog af het Cockerill nie dié eienskap gehad nie en die spelers het openlik kant begin kies vir die oud-All Black en hulpafrigter Aaron Mauger, wat nou tydelik oorgeneem het.

Cockerill het ook die fout begaan deur ter veel klem op voorspeler-oorheersing te lê, terwyl Mauger, net soos in sy speeldae by die All Blacks en Crusaders, `n voorstander van avontuurlustige rugby is.

Cockerill het `n goeie vertoningslys gehad, want onder hom het die Tigers 178 wedstryde gewen (64,5%), 87 verloor en 11 keer gelykop gespeel.

Leicester het die Engelse Premierliga drie keer onder hom gewen, maar die klub se peil het gaandeweg agteruitgegaan. Die laaste strooi was toe Rassie Erasmus die argitek van sy ondergang was toe Munster die Tigers `n paar weke gelede met 38-0 geklop het. Die klub en sy ondersteuners het genoeg gehad en hy kon afgedank word.

Dit is `n les wat  Suid-Afrika gerus ter harte kan neem, veral noudat private maatskappye die beherende aandeel in unies kán, en verkry hét.

Bly aan die wenkant, hou die spelers gelukkig en dan sal die toeskouers terugstroom en die boeke klop. Maar as dit nie bereik word nie, is daar net een paadjie om te loop.

As `n afrigter net vier uit 12 toestse wen, moet daar baie ernstig oor sy toekoms besin word, veral  as die eens magtige span al hoe verder op die wêreldranglys terugsak. Ja, daar was nie `n prestasieklousule nie. Ja, daar was `n rits beserings. Ja, daar was nie `n beleid oor die kies van oorsese spelers nie. Ja, die Bokafrigter kon ook nie sy eie bestuurspan kies nie.

Wie se skuld is dit?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.