Coenie Oosthuizen is ʼn ware spanman

Coenie Oosthuizen

Wanneer die son oor ʼn paar jaar begin water trek en ’n sak hardekool hout word nader getrek, sal die heldhaftige verhaal van Coenie Oosthuizen oorvertel word.

Ja, Pieter-Steph du Toit is Saterdag in Perth in die toets in die Rugbykampioenskap tussen die Bokke en Wallabies as Speler van die Wedstryd aangewys ná sy uithaler-vertoning.

Maar as daar ʼn eerbewys moes gaan vir deursettingsvermoë, om jou lyf vir ʼn spanmaat op die spel te plaas en deur die pyngrens te speel, was daar net een wenner: Coenie Oosthuizen.

Hy het reeds in die eerste helfte ʼn armbesering opgedoen en het ʼn paar keer in die rigting van die paviljoen gekyk.

Eers in die vierde kwart van die wedstryd is hy deur Trevor Nyakane vervang.

Maar toe slaan die noodlot toe. Nyakane loop deur en doen ʼn diep sny aan een van sy oogbanke op. Hy is bebloed van die veld af en die diep wond is met verskeie steke geheg. Hy kon nie voortspeel nie, maar wat nou gedoen?

Moenie eens vra nie, want Oosthuizen is met ʼn verbinde voorarm weer opgestuur.

Ná die wedstryd is daar vasgestel dat hy sy arm gebreek het en hy sal Maandag in Durban verder ondersoek word om die erns van die besering vas te stel.

Dit laat ʼn mens onwillekeurig aan die legendariese All Black-slot Colin Meads se heldedade terugdink toe hy in 1970 in Springs teen Oos-Transvaal sy arm gebreek het. Die voorval het in die sesde minuut gebeur toe Meads die losskakel Earl Kirton, wat op die grond gelê het, probeer beskerm het.

ʼn Woeste skop, wat volgens Kirton na hom gemik was, het Meads se arm gebreek, maar hy het bly voortspeel, vir nog 74 minute.  Die All Blacks het vinger gewys na Skip Henderson, die Rooi Duiwels se slot en kaptein, maar dis nooit bewys nie.

Toe Meads ná die baklei-wedstryd meegedeel is dat sy toer dalk verby was, het hy droogweg opgemerk: “At least we’ve won the bloody game.”

Meads wou dit nie aanvaar nie, het nege toerwedstryde uitgesit en toe met ʼn stut in die derde en vierde toets gespeel.

Dis sulke heldedade wat spelers van ander onderskei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

B-man ·

Trots op hom en PS du Toit. Heel verbaas dat ons gelykop geëindig het met so min balbesit. Bal het skaars verby Elton gegaan!

Jantjies-Bandjies! ·

Elton is te bang vir die bal, want hy’s bang hy word getackle en is dan uit die game uit en word vervang deur iemand wat ACTUALLY rugby kan speel!!!!! Hy’s net daar oor sy “haarstyl”…

Hôkaai ·

Jantjies is nié die gehalte losskakel wat die bokke nodig het nie.

wesley ·

Ek dink jou opnie oor Elton het meer met sy hare te doen as sy spel op die veld. Shame…

grote ·

Coenie speel vanjaar soos ‘n yster en is ‘n voorbeeld van hoe die span vanjaar almal vir mekaar speel en nie opgee nie! Om met ‘n af-arm vas te byt tot die einde, maak hom my speler van die jaartot dusver ! Ek dink hier kom nog groot dinge vir die span!

Ferrox ·

Stem heelhartig saam. Een goeie tekkel dan is die blus uit.

wesley ·

Dit is so grote… Ons moet die seuns ondersteun. Laas jaar was sleg ja, daar is van ons wat net wil kritiseer, maar egte ondersteuners staan saam met so n span wat vir mekaar en hul land speel, sulke goeie broers onder mekaar is en goeie voorbeeld is as mense. Om eerste beste tops in als te wees is nie als nie… Kyk maar na NZ. Goeie rugby span. Trotse nasie. Maar paar vrot appels wat vrouens verneuk, dwelms gebruik ens, so erg dat hul moet hierdie dinge ondersoek… Kan nie goed wees vir hul “image” nie. n Goeie voorbeeld van wat om te vermy as sporthelde… Bly gegrond Bokke, en ons sal trots kan wees op jul!

Lukie Carelsen ·

Pragtige artikel! Baie dankie Maroela. Om Coenie Oosthuizen se naam te noem saam met die legendariese Colin Meads is ‘n hengse kompliment vir enige speler maar dis seker die enigste spelers (waarvan ek bewus is) wat met gebreekte arms aanhou speel het!

cdv ·

Ek het respek vir Coenie, maar dit is nie so seldsaam dat rugbyspelers ‘n westryd met gebreekte arm of hand voltooi nie. Bv. 3de toets Leeus & NZ in Julie het Jonathan Sexton met gebreekte? gekraakte pols gespeel. Ma’a Nonu het in 2014 se Wellington toets teen die Bokke met gebreekte arm voltooi en so ook Rory Best van Ierland teen NZ in 2013. Baie weet nog van Jannie Engelbrecht wat in 1964 twee drieë virdie WP met ‘n gebreekte sleutelbeen gedruk het.

Pieter ·

Laat my dink aan Andre Joubert ook met sy gebreekte hand … dalk nie so erg soos n arm nie maar ook baie braaf

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.