Coetzee stap met drie Ulster-toekennings weg

Marcell Coetzee. Argieffoto.

Die Springbok-losvoorspeler Marcell Coetzee het ’n spul toekennings tydens Ulster se virtuele toekenningsaand opgeraap.

Die 29-jarige Coetzee is die ondersteuners en rugbyskrywers se speler van die jaar sowel as die rugbypersoonlikheid van die jaar vir die 2019/’20-seisoen.

Coetzee het 30 Springboktoetse agter sy naam en het in 2016 deel van dié Ierse klubspan geword.

Nadat hy verlede jaar sy tweede agtereenvolgende Wêreldbekerrugbytoernooi weens ’n besering misgeloop het, het hy vroeër gesê dat hy weer sy Springbokstempel teen die Britse en Ierse Leeus in 2021 sal afdruk. “Op die ou einde moet jy besluit; Gaan jy net lê of gaan jy terugbaklei? Hoewel dit aanvanklik baie moeilik was, genees tyd alle wonde. Ek het besluit dat ek net sterker as voorheen sal terugkom,” het hy destyds gesê.

Volgens Coetzee is die grootste ding wat beserings hom geleer het dat hy baie geseënd is om rugby te kan speel en dat hy elke sekonde op die veld moet waardeer.

“Ja, dit is baie teleurstellend om nóg ’n Wêreldbekertoernooi te mis. Ek kan wel bevestig dat ek op bystand was indien een van die losvoorspelers ’n besering sou opdoen. Maar beserings maak jou net hongerder om te speel – maak nie saak of dit vir Ulster of die Bokke is nie – dit is net wonderlik om rugby te speel.”

Hoewel Coetzee nou voorlopig op Ulster se wedstryde konsentreer, sê hy tog dat hy een oog op die Bokke se wedstryde teen die Britse en Ierse Leeus in 2021 het.

“Om teen die Leeus te speel is beslis my langtermyndoelwit. Dit sal so lekker wees as ek dit kan doen. Maar vir eers moet ek vir Ulster presteer. As ek dit op ’n gereelde basis kan doen, kan die Leeus se deur dalk vir my oopgaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.