Coles kry nog ʼn stamp teen die kop

Ricky Riccitelli (Foto Hurricanesrugby.co.nz)

Die All Black-haker Dan Coles se loopbaan hang aan ʼn dun draadjie.

Coles, wat sedert Maart langs die kantlyn was met harsingskudding en eers onlangs weer begin speel het, sal Saterdag se Rugbykampioenskap- en Bledisloe-toets teen Australië in Sydney misloop nadat hy weer ʼn stamp teen die kop gekry het.

Coles is Vrydag in Pukehohe in die All Blacks se opwarmwedstryde van drie helftes teen Taranaki en Counties beseer en word deur sy Hurricanes-spanmaats Ricci Riccitelli vervang.

Riccitelli se pa is Italiaans en die haker is in Durban gebore. Hy het as vierjarige kleuter saam met sy ouers na Nieu-Seeland geëmigreer.

Die All Blacks se afrigter, Steve Hansen, sê Coles is as ʼn voorsorgmaatreël  vervang, maar daar hang ʼn vraagteken oor sy loopbaan.

Die All Blacks het ook die vlugvoetige vleuel Nehe Milner-Skudder en die heelagter David Havili vrygestel.

Dit is ietwat van ʼn verrassing, want Milner-Skudder is juis in die plek van Julian Savea as linkervleuel ingesluit.  Dit beteken dat die jong Rieko Ioane en Israel Dagg straks die vleuelpaar sal wees, met Ben Smith die heelagter en Damian McKenzie op die bank.

♦  Intussen het die gewese Wallaby-afrigter Bob Dwyer die besluit van die Australiese Rugbyunie (ARU) om die Force van sy Superrugbystatus te stroop, as ʼn fiasko en katastrofies beskryf.

Volgens Stuff.co.za het Dwyer ʼn beroep gedoen op Bill Pulver, die uitvoerende hoof van die ARU wat sy bedanking ingedien het, om onmiddellik sy pos te ontruim.

“Hoewel dit ʼn vreeslike slag vir die Force is, het daar goeie dinge daaruit voortgespruit, soos die bedanking van Bill,” het Dwyer gesê. “Dit kan net ’n stap in die regte rigting wees.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.