Colin Meads, die All Black-das en ek

Colin Meads se geskenk aan Pieter Kruger. (Foto: Pieter Kruger)

Toe ek Sondagoggend die nuus hoor dat die All Black-legende Colin Meads, 81, aan kanker oorlede is, het ek na sy das in die motorhuis gaan soek, daar waar dit stof tussen hordes ander vergaar.

Ek het die smallerige swart das met die All Blacks se silwervaring daarop afgestof, maar nie om my nek gehang nie, uit eer en respek vir Meads, Nieu-Seeland se speler van die vorige eeu.

Die legende wat tussen 1957 en 1971 in 133 wedstryde vir die All Blacks gespeel het. Die kolos wat in 55 toetse gespeel het, kaptein, keurderbaas, afrigter en spanbestuurder was.

Ek het aan ʼn aand, jare gelede in Durban voor ’n toets tussen die Bokke en All Blacks teruggedink, toe Pinetree, soos hy allerweë bekend gestaan het, sy das om my nek gehang het.

Hy was die sout van die aarde, groot, kliphard, passievol, een wat die tradisies en waardes van die spel altyd voorop gestel het. Hy was ʼn groot vriend van Suid-Afrika, hy was die afrigter (eintlik maar die spanbestuurder van die Nieu-Seelandse Kavaliers wat in 1986 teen die Bokke gespeel het nadat die All Black-toer van 1985 afgelas is).

Jy wou nooit teen hom gespeel nie, want hy was verwoestend en wou alles en almal uit sy pad vee. Maar, wanneer die son begin water trek het, was alles vergete.

Dis wanneer jy aan sy lippe gehang het, na sy staaltjies geluister het, oor sy plaas by Te Kuiti in Nieu-Seeland, oor sy gesin, oor die All Blacks. Oor die groot advertensiebord waarop daar staan: “Welkom in Meadsville”.

Hy het weggeval met: “How’s my friend, Danny?” verwysende na Dok Danie Craven, die gewese Suid-Afrikaanse rugbybaas.

Ek het na sy groot hande gestaar wat om die bierglas gevou het, na sy dik vingers wat aan die Rembrandt-slaghuis se wors herinner het. Ek het gedink aan hoeveel lynstane hy gewen het, by hoeveel losskrums hy ingedons het, hoeveel skape hy geskeer het.

Daardie aand in Durban het ek aan Pinetree vertel watter indruk hy in 1970 op my gemaak het toe hy met ʼn gebreekte linkeram 74 minute lank teen Oos-Transvaal bly voortspeel het.

Dit was voor die eerste toets op Loftus Versfeld, daar was sprake dat Meads huis toe sou gaan, maar hy wou nie, hy wou teen die Bokke speel (hy het wel in die derde en vierde toetse met ‘n armstut om sy gebreekte arm gespeel).

Sy linkerarm was in gips en hy het op sy eie op Loftus gedraf, gedraf en gedraf om fiks te bly.

Ek het met my handetekeningboekie op hom gewag, totdat hy klaar was.

Ek het hom daardie aand in Durban daarvan vertel … en hy ʼn rukkie lank aan mý lippe gehang.

En toe vra hy om gou verskoon te word. Ná ‘n paar minute het hy teruggekeer en sy All Black-das om my nek geknoop.

“Dit was myne, dis nou joune,” het hy gesê.

Ek het Sondagoggend weer aan die das gedink, dit uitgepak en bewonder, maar steeds nie kans gesien om dit om om my nek te hang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Frans C ·

Ek hetdie wedstryd teen Oos Transvaal bygewoon.Daar was ‘n losskrum soos ek onthou naby of in Oos Transvaal se kwart gebied.Een van die Oos Transvaal spelers,as ek reg onthou,die kaptein het Colin Meads opgetel en teen die grond gegooi.

Dat dit ‘n blatante stukkie vuilspel was ,wat vandag tot lewenslange skorsing kon lei, is verseker.Meads het nogtans deelgeneem aan die volgende ;ynstaan.Beslis ‘n ysterman.

Nico K ·

Van vuilspel gepraat, as daar in daardie tyd kameras was sou daar min van daardie spelers die hele wedstryd op die veld gebly het. En “vlagmanne” het geen segenskap gehad nie. En daar was 30 manne op die veld en ‘n skeidsregter het net twee oë gehad en die meeste van die tyd nie eers twee goeie oë nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.