Combrinck vergoed vir Lions se skop-brouwerk

Harold Vorster loop hom vas teen die Sharks se slotte, Stephan Lewies en Etienne Oosthuizen (Foto GB Jordaan)

Dit was Ruan Combrinck wat uiteindelik skopsukses vir die Lions behaal het met ʼn strafdoel van 58 meter om Saterdag se uitstekende, klipharde kwarteindwedstryd op Ellispark vir die Lions met 23 – 21 te beklink.

Die skop, minder as drie minute voor die eindfluitjie, het vergoed vir 13 punte wat met maklike skoppe deur Elton Jantjies en Combrinck verlore gegaan het. Veral die twee strafdoele, in ’n stadium toe die Lions vroeg-vroeg beheer gehad het, het hulle amper die wedstryd gekos.

Vat so, Sharks! Julle verdediging was skitterend teen die gunsteling en nommer een-span in die Superreeks wat besit en gebied geheel en al oorheers het, die meeste gate geslaan het … maar ook die meeste hanteringsfoute gemaak het.

Die Sharks het met hul opskietverdediging die Lions se agterlyn, veral in die eerste helfte, skoon verward geduik. Jantjies was die kluts kwyt met sy skopwerk pale toe, waar hy drie maklike skoppe verbrou het, en ook met sy algemene spel.

Die Lions het, selfs voor hulle van Jantjies se skewe korrel bewus was, omtrent kamp opgeslaan in die Sharks se kwartgebied. Die druk het strafskoppe gebring, maar Jaco Kriel het egter besluit kantlyn toe was die beste opsie.

Dit het nie gewerk nie, maar darem die druk volgehou.

Lionel Mapoe word vasgevat deur Lukhanyo Am met Philip van der Walt wat kom hulp verleen. (Foto GB Jordaan)

Die Lions het uiteindelik gewen omdat hulle die afbreekpunte beheer het waar Malcom Marx ʼn tamaai wedstryd gespeel het en male sonder tal die besit omgekeer het – omdat hulle beter geskrum het en ʼn belangrike lynstaan deur Franco Mostert, omgekeer is wat die Sharks se momentum gehalt het.

Dan het die Sharks ook nie, toe hulle op die aanval was, munt geslaan uit die geelkaart van Franco Mostert in die 64ste minuut nie. Die Lions het dit wel gedoen toe Stephan Lewis ná 45 minute afgestuur is en twee keer in die tien minute gaan druk het om weer in die prentjie te wees.

Volpunte vir die verdediging van die Sharks wat 134 keer moes duik waarvan net 24 mis was. Uitstaande was die Du Preez-tweeling, Dan en Jean-Luc, asook Philip van der Walt wat in die vaste losspel ook uitstekende werk gedoen het en as kaptein beïndruk het.

Die vraag is nou: Was die Sharks só goed? Of was dit ʼn voortsetting van die Lions se geleidelike afplatting na verlede jaar se amperse sukses? Hulle was nie so indrukwekkend soos in 2016 nie, en as hulle speel soos in die eerste helfte, wag daar moontlike hartseer teen die Hurricanes – hoewel daar bedenkinge moet wees of die Canes se voorspelers hul man sal kan staan.

En nog ʼn baie, baie belangrike vraag: Is hierdie net ʼn afdag vir Jantjies, of het die Sharks gewys hoe om die Lions te slaan waar dit die seerste maak?

Puntemakers –

Lions: (3) 23: Drieë: Franco Mostert, Jaco Kriel, Lionel Mapoe. Doelskop: Elton Jantjies. Strafdoele: Jantjies, Ruan Combrinck.
Sharks: (14) 21:  Drieë: Kobus van Wyk, Dan du Preez. Doelskop: Curwin Bosch. Strafdoele: Bosch 2. Skepdoel: Bosch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Wow ! Vir die eerste keer het die Sharks werklik volgens hulle potensiaal gespeel. Mens kan net baie geluk sê aan ‘n begeesterde span spelers.
Die feit dat die Lions darem ook hier die wa deur die drif kon trek met seker die swakste skopvertoning van die jaar spreek boekdele. Ons hou duim vas vir julle kêrels

Kosie ·

Lions sukkel maar sonder Whiteley. Sal baie beter moet speel teen die NS spanne.

Callie ·

Nog elke keer as die druk op Jantjies is vou hy. Ek wys dit al vir 3 jaar lank uit. Veral Neuzeeland spanne weet dit. Gaan kyk net laasjaar se weddtryde wat leeus teen hulle verloor het. Dit gaan weer gebeur en hopenlik as die All Black gespeel word is Pollard al reg

Frans C ·

Swak besluitneming en skopwerk het amper die einde van die Leeus beteken.Die Sharks het weereens ‘n drie op skinkbord gekry van ‘n wilde ingooi van Coetzee af,pleks om ‘n skrum op die middellyn te neem.

Suidelike halfrondspanne begin alhoemeer hul Europese eweknie se opskietverdediging
gebruik en vandat die BIL-toerspan die All BLacks daardeur gekniehalter het word dit alhoemeer toegepas.Aanvallende spanne soos die All Blacks en Leeus se speelruimte word
sodoende ingeperk en word gehoop dat foute wat so ontstaan uitgebuit kan word.

Al die reëls (eintlik wette wat gewysig is) word sodoende uitgeskakel en beland in die asblik.Die kort skoppie oor die agterlyn word ook goed gelees en nie meer so effektief nie.
Dalk kan goed geplaaste grondskoppies die opskietende spelers laat omdraai en terugval
want ‘n bal op die grond is soveel moeiliker om te bemeester as lang en kort lugskoppies.

Bantam ·

Hoop Pollard is terug om wat te doen . Daar is beter as hy wat hulle oor en oor bewys . Koppe het te groot geraak . Pollard en Jantjies is voorspelbare spelers wat nie meer veel regkry teen bogemiddelde spanne nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.