Cooper se Aussie-burgerskap kry momentum ná wenskop

Quade Cooper het 23 van sy span se punte teen die Springbokke aangeteken. Foto: Patrick Hamilton/AFP.

’n Suksesvolle strafskop in die doodsnikke van ’n toets om die wedstryd vir jou span te beklink kan wondere beteken.

En as jou naam Quade Cooper is, is jy skielik sommer in die binnebaan om ’n Australiese burger te word.

Kort ná sy heldedade teen die Springbokke op die Cbus Super-stadion, waar hy 23 punte in sy eerste toetswedstryd in vier jaar aangeteken het, is ’n petisie van stapel gestuur om hom ’n Australiese burger te maak.

Alex Hawke, Australië se minister van immigrasie, het duidelik na die publiek geluister en gesê dat regulasies aangepas sal word om talentvolle individue (soos Cooper) te akkommodeer.

Maroela Media het in Julie berig dat die 33-jarige losskakel se aansoek om Australiese burgerskap vir die vierde keer in ses jaar van die hand gewys is.

Volgens die Australiese departement van binnelandse sake het Cooper, wat in Nieu-Seeland gebore is, toe nie aan sekere vereistes voldoen om sy burgerskap te regverdig nie.

Die departement voer aan dat hy nie bewyse kon lewer dat hy ’n persoon is wat aktiwiteite beoefen wat tot voordeel van Australië is nie, terwyl hy ook nie iemand is wie se werk vereis dat hy gereeld buite die land se grense moet reis nie.

Maar om ’n toetswedstryd teen die Springbokke te wen, is duidelik tot voordeel van Australië.

Kristina Keneally, adjunkleier van die opposisie in die Australiese senaat, het Cooper se lof in die dagblad Sydney Morning Herald besing.

Volgens die politikus het Cooper die verantwoordelikheid om die Springbokwedstryd te wen op sy skouers geneem.

“Daar is niks wat Australië beter versinnebeeld as om op te staan en jou maats se belange op die hart te dra nie. Quade Cooper se paspoort moet by sy Wallabies-trui pas. Hy is ’n Australiese held en hy moet ’n Australiese burger wees,” het sy gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Ja hulle regulasies maak nie sin nie. Jy moet OF ‘n olimpiese sport doen, OF krieket, OF tennis. Rugby is nie op die lys nie. Maak net die sin nie. Maar nou ja. Hoop dit werk vir hom uit.

Niklaas ·

Hy het ‘n beter kans om nou daar reg te kom by Binnelandse sake. Ek glo dit sal nou vinnig gebeur. En hy moet dankbaar wees hy is nie in SA besig met ‘n aansoek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.