Corra was een van Bokke se stroomroller-vleuels

Corra Dirksen was een van die Springbokke se klipharde vleuels. Foto: Verskaf.

Wanneer jy teen die Franse rugby speel, kies jy vleuels wat net een pad doellyn toe ken: reguit.

Soos Corra Dirksen in die reeks in 1967, Gert Muller in 1971 en Carel Fourie en Willem Stapelberg in 1974.

Dis wanneer die Franse joernaliste na hul woordeboeke gryp en met die heerlikste byname na vore kom.

Dirksen is “Le Monster” gedoop nadat hy twee drieë in die Bokke se oorwinning van 26-3 in die eerste toets in Durban gedruk het.

Dirksen, wat Vrydag oorlede is, was jare lank een van ons tjokkers se groot gunstelinge op Loftus Versfeld.

Hoeveel keer het ons nie daar op die Loftus B of Loftus C met groot oë toegekyk hoe hy vir Oostelikes in die Carltonbeker-reeks met sy kraglopies oor sy teenstanders gespoel het nie?

Sy drie in die eerste toets op Kings Park teen die Franse was ʼn juweel en een van die keerpunte van die toets.

Dit was net die regte medisyne wat die Springbokke nodig gehad om uit die as op te staan nadat hulle in 1965 net een uit agt toetse kon wen.

Die beweging het gevolg nadat die losskakel, Piet Visagie, wat een van agt nuwelinge in die Springbokspan was, steelkant toe beweeg het en Dirksen aan die oop kant tussen die skrumskakel Dawie de Villiers en senters op vol spoed ingesny het.

Hy het bloot oor die klein Franse losskakel Guy Camberabero gehardloop en op pad pale toe nog drie Franse, insluitende die heelagter Paul Lacaze en vuurvreter-senter Claude Dourthe, uit sy pad geloop.

Dirksen se lopie het paniek in die Franse kamp gesaai, want hulle het nie ʼn teenvoeter gehad om hom te keer nie.

Die Franse, wat die Vyfnasies-kampioen was, kon eers in die derde toets op Ellispark sake regstel toe Camberabero met sy skopvoet die Bokke gekelder het en Dourthe met sy gevaarlike hoogvatte, wat deur die vermaarde rugbyskrywer Gerhard Burger as ʼn “Wes-Randse wasgoeddraad” beskryf is, voet in die deur kon kry.

Fourie, die jonger broer van die yster-flank Polla Fourie, is deur die Franse in 1974 as “Le Guillotine” gedoop omdat hy die Franse behoorlik afgeslag het, ook op die verdediging.

Fourie se Suid-Afrikaanse bynaam was Tossie en net soos Dirksen het hy en Stapelberg in 1974 die Franse papelellekoors gegee en die Bokke weer terug op die wenpad gekry ná die rampspoedige reeks in 1974 teen die Britse Leeus.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
C-Monster

Ek was ‘n kindervriend van een van Corra Dirkse se “nephews” – sy vrou se suster se seun.
Ek was ongeveer 7 jaar oud toe ek byna verdrink het in ‘n swembad waar Corra Dirksen by familie in Pretoria-Noord gekuier het. Ek verstaan hy was toe waarskynlik nog ‘n mediese student.
Corra Dirksen het daardie dag my lewe gered. Water uit my longe gepomp en seker gemaak ek kry asem.

Ek was heel moontlik die eerste lewe wat hy gered het.

Baie innige simpatie en medelye met al die familie en vriende.