Covid-19: Chaos in Europese rugby

Die Bordeaux-Begles het die Dragons met 47-8 verslaan. Foto: Romain Perrocheau/AFP

Die Covid-19-pandemie saai chaos in Europese rugby nadat ses wedstryde in die Europese Kampioenebeker- en Uitdaagbeker-reeks dié naweek gekanselleer moes word.

Volgens die kompetisiereëls het Toulouse, La Rochelle, die Scarlets en Lyon onderskeidelik met 28-0 teen die Exeter Chiefs, Bath, Toulon en die Glasgow Warriors “gewen” omdat die wedstryde nie kon plaasvind nie.

Daar was geen ander uitweg nie, want 20 spelers van Glasgow het positief getoets en 12 spelers van Bath was nie beskikbaar nie.

Die kragmeting tussen die Dragons en Bordeaux-Begles het wel in Frankryk voortgegaan, hoewel die Walliesers sonder 17 spelers was wat positief getoets het of beseer was.

Was dit ʼn wyse besluit om voort te gaan, om met 8-47 te verloor en die swaard van verdere positiewe toetse wat oor die span hang?

In die Uitdaagbekerreeks het Agen en die Cardiff Blues volpunte ontvang onderskeidelik teen Bennetton en Stade Francais.

Daar is wel ʼn hele paar wedstryde gespeel, hoofsaaklik op nat velde en in yskoue weer.

Dit is soortgelyke toestande wat op die Suid-Afrikaanse spanne wag wanneer hulle aanstaande jaar in die vergrote Pro14-reeks gaan speel.

Dan het veral ʼn paar Franse skeidsregters nie geskroom om geelkaarte uit te deel en strafdrieë toe teken nie.

* Gloucester het in Belfast ʼn doodsnik-oorwinning van 38-34 oor Ulster behaal in ʼn kragmeting wat deur vier geelkaarte en twee strafdrieë gekenmerk is. Marcell Coetzee was weer een van Ulster se ysters.

* In die wedstryd tussen Wasps (tuisveld) en Montpellier is die heelagter Henry Immelman in die sewende minuut afgestuur met ʼn rooikaart vir ʼn gevaarlike duikslag. Dit het tot ʼn oorwinning van 33-14 vir Wasps oor die Franse gelei, wat Bismarck du Plessis en Jacques du Plessis in die beginspan ingesluit het.

* Die twee Ierse spanne, Leinster en Munster, het albei sterk in die wedloop gebly met oorwinnings onderskeidelik oor die Northampton Saints (35-19) en Clermont Auvergne (39-31).

Munster, oudergewoonte aangevuur deur die stormramme Damian de Allende en CJ Stander, was ná 25 minute met 9-28 agter, maar die afrigter Johann van Graan se Iere het vasgebyt om Clermont slegs sy tweede nederlaag in 34 wedstryde op sy tuisveld toe te dien.

* Leinster, wat erg deur beserings geteister is, het sy aanspraak as Europa se beste span behou toe hy Northampton met 35-19 geklop het. Die span wat die Kampioenbeker omhoog wil hou, sal Leinster moet klop.

* Die Sale Sharks, soos gewoonlik gelaai met ʼn gros Suid-Afrikaanse spelers, is met 16-15 deur Edinburgh in Manchester geklop.

Jean-Luc du Preez, een van die drie Du Preez-broers, het ʼn geelkaart gekry wat Sale duur te staan gekom het.

Rohan Janse van Rensburg het ʼn drie na ʼn sololopie van 50 meter vir Sale gedruk en Faf de Klerk is voor die einde vervang.

In Edinburgh se span het Jaco van Walt, Duhan van der Merwe en WP Nel uitgeblink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.