Covid-19 het De Villiers ‘hard geslaan’

Peter de Villiers. Foto: Stephane de Sakutin/AFP.

Peter de Villiers, die afrigter van die Oostelike Provinsie, het mense op sosiale media bedank wat hom beterskap in sy stryd teen Covid-19 toegewens het.

Die voormalige Springbok-afrigter en 11 van die unie se spelers het positief vir die virus getoets ná hul voorbereidingswedstryd teen die Cheetahs.

“Dit (Covid-19) het my hard geslaan en ek voel nie te waffers nie, maar soos wat ek altyd sê: Daar is selfs goeie dinge in slegte tye te vind,” het De Villiers geskryf.

“Ek is ’n vegter en ek sal dit oorwin!”

Weens die verwikkelinge sal die unie se kantoor tot 14 Junie gesluit wees, terwyl hul komende wedstryd teen Griekwas ook afgelas is.

De Villiers was suksesvol as Springbokafrigter en het 30 van sy 48 toetse gewen, vir ʼn wenpersentasie van 62,5%. Die Bokke het onder hom die All Blacks vyf keer in 11 toetse geklop, die Drienasiestoernooi in 2009 gewen, asook die Britse en Ierse Leeus in die reeks van drie toetse met 2-1 geklop.

Hy kon in dié tydperk op die dienste van spelbrekers, spelskeppers en leiers soos Bryan Habana, Jean de Villiers, Jaque Fourie, Frans Steyn, Fourie du Preez, Bismarck du Plessis, Victor Matfield, Bakkies Botha, Juan Smith, Schalk Burger en Pierre Spies steun.

Intussen het die lede van Australië se bofbalspan weens Covid-19-vrese, en die logistieke nagmerrie wat daarmee gepaardgaan, besluit om hulle aan ’n kwalifiserende toernooi vir die Olimpiese Spele te onttrek.

Volgens Glenn Williams, uitvoerende hoof van Australië se bofbal-beheerliggaam, was die veiligheidsrisiko net te groot om aan die toernooi in Mexiko deel te neem.

Taiwan en China het hulle ook reeds aan die toernooi onttrek en slegs drie spanne sal later sake op die bofbalveld uitspook.

“Selfs al het ons die toernooi gewen, sou die kwarantyntydperk dinge moeilik gemaak het om betyds na Japan vir die Spele te reis,” het Williams gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.