Cravenweek: drieë by dosyne skep vrae oor verdediging

Lekker rugby, sekerlik, want drieë is waaroor dit gaan. Maar Donderdag het die seël geplaas op die Craven- en Akademieweek se hoë tellings en die vraag ontstaan of die verdediging op peil was.

Nie minder nie as 828 punte is Donderdag in die twee toernooie by St Stithians in die elf wedstryde gedruk met die hoogste telling die oorwinning van Griekwas teen die Valke waar 17 drieë gedruk is. Die telling was 60-52. Griekwas het nege drieë gedruk en die Valke agt.

In Donderdag se hoofwedstryd het die Sharks die span van SWD met 65-26 geklop en hul plek in Saterdag se hofwedstryd bespreek. Hulle sal teen die Goue Leeus speel wat, ondanks die gelykoptelling teen die WP in Woensdag se wedstryd, die eer sal kry om in ʼn tweede opeenvolgende hoofwedstryd te speel.

Die Blou Bulle het voortgeploeter en is met 37-0 deur die OP geklop, die Luiperds het met 57-30 teen Namibië gewen en OP-platteland was met 34-14 teen Zimbabwe baas.

♦  By die Akademieweek het die Goue Leeus die Vrystaat met 48-38 getroef en die Goue Leeus XV het Grens met 31-8 geklop. Die SA LSOB-span het met 43-31 teen die Valke-platteland gewen. Albei die Pumas se spanne het pak gekry. Pumas-platteland het met 17-33 teen die Luiperds verloor, en die Blou Bulle het die Pumas met 46-31 geklop.

Suid-Afrika se buurlande het albei gewen: Namibië met 64-15 teen Grens Platteland en Zimbabwe met 31-17 teen Griffons-platteland.

Die Goue Leeus XV speel Saterdag in die Akademieweek se hoofwedstryd teen die SWD.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pierre ·

En so ploeter die Bulle toe voort, wonder regtig of die regte spelers gekies was vir hierdie toernooi, sal nooit weet nie. Groot ophef was gemaak oor die Affie en Kloof spelers in die span, maar die skrif was reeds teen die muur tydens hulle opwarmings wedstryde. Hoop nie dis die toekoms van Blou Bul Rugby nie, want ouboet het ook nie waffers gevaar nie.

Jurie ·

Hulle sal maar weer spelers gaan koop by die Vrystaat en die Valke, want ontwikkeling van spelers is nie groot by die Bulle nie.

Johan Rossouw ·

Miskien moet die keurders meer in die weste en noorde van Pretoria gaan soek vir spelers.

Pierre ·

Stem heelhartig met jou saam Johan. Ek het al vroeer die week verwys na spelers van Menlo, Eldoreign, Centurion en Garsfontein wat na my mening baie beter sou gedoen het.

Pierre ·

Wou nog opgemerk het oor hoeveel beter die Akademie span van die Bulle gedoen het. Weet nie of ons daarin iets moet lees nie.

Lol ·

Ek kan nie opinie lewer oor ander provinsies nie maar ek dink dieselfde tendens hier in die Oos-Kaap (OP en Grens) is orals. Afgesien van kwota-komplikasies word jaar vir jaar spelers van sogenaamde sterk skole waar spelers se verdediging nie getoets word nie en slegs op aanvallende talent gekies. By Cravenweek vir die eerste keer moet baie van hulle eers besef wat is verdediging. Wat was Kitch Christie se beleid-“Meer wedstryde word gewen met goeie verdediging as goeie aanvallende spel?”

Nouja ·

Lol. Stem 100% saam. Die skole waaraan ek vlugtig kan dink is Grey PE, St Andrews Grahamstad, Marlow Cradock, Queens in Queenstown, Dale in King Williams Town en Selborne in Oos Londen. Hierdie is die sterkste rugby skole in die Oos Kaap wat nie genoeg teen mekaar speel nie. Hulle is ongelukkig 100de km van mekaar geleë. Vir hierdie skole om elke naweek met 50 punte teen ‘n wakker buurskool te wen beteken niks nie. Dit gee net hierdie kinders ‘n valse persepsie hoe goed hulle kastig is. Die Oos Kaap en Grens het sy eie super skole liga nodig waar die sterk skole week in en week uit teen mekaar speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.