Cravenweek: meer is van die WP en die Leeus verwag

Christen van Niekerk van die Goue Leeus wen die lynstaan oortuigend (Foto Sydney Seshibedi/Gallo Images)

Verlede jaar se twee spanne wat in die hoofwedstryd gespeel het, het Woensdagmiddag by St Stithians in die Cravenweek met 13-elk gelykop gespeel en effens verligting gebring van die hoë tellings wat die wedstryde dusver gekenmerk het.

Die Westelike Provinsie het binne die eerste minuut ná die afskop ʼn drie gaan druk. Angelo Davids was die man wat die breekslag van Dawid Kellerman afgerond het voordat die Goue Leeus nog behoorlik besef het die wedstryd het begin.

Die Kapenaars het dit ná rustyd, weer in die eerste minuut, met ʼn tweede vleueldrie herhaal toe Thaakir Abrahams gaan druk het om die Goue Leeus onder druk te hou en 10-0 voor te loop.

Interessant genoeg was dit ook die Leeus se twee vleuels, David Cary en Kennedy Mpeku, wat vir hulle gedruk het om die telling 10-elk te maak.

Maar in die geheel is meer van die spanne en die wedstryd verwag

Die Leeus was voorlangs baas. Die WP het minder besit as die tuisspan gewen, maar was deurgaans skerper met hulle aanvalle. As hulle egter minder individualisme getoon het, was daar seker ʼn drie of twee meer.

Die Goue Leeus, daarenteen, het meer geleenthede geskep, drie keer soveel hanteerfoute gemaak en daarmee die oorwinning laat glip.

Hulle agterlyn, ondanks die geleenthede wat geskep is, het te dikwels die bal staan-staan aangegee en die heelwat (onafgeronde) deurbrake was hoofsaaklik te danke aan individuele breekslae eerder as spanwerk.

Dit was nietemin, ondanks die baie foute, ʼn wedstryd waar albei spanne probeer hardloop het wanneer hulle kon, die lynstane aan albei kante uiteindelik reggeruk is en die gelykop-uitslag moontlik die regte een was.

♦  Vraag: Wie van dié twee spanne gaan Saterdag in die hoofwedstryd speel?

Die ou spreekwoord van “twee honde wat veg om ʼn been” kan dalk hier geld, want die Vrystaat het ná ʼn naelskraapse voorsprong van 21-20 teen die Pumas die krane ná rustyd oopgedraai en met 62-41 gewen. Dit het nege drieë ingesluit en die Pumas het ses keer die doellyn oorgesteek.

Met ʼn tweede indrukwekkende oorwinning mag Vrystaat dalk die stem vir die hoofwedstryd uit hulle groep kry.

♦  Die Limpopo Blou Bulle het Grens met 59-41 geklop in die wedstryd wat presies 100 punte opgelewer het en waar 14 drieë gedruk is.

Siphamandla Mats het drie keer en Jason Raubenheimer twee keer vir die verloorspan gaan druk, terwyl Kamogelo Matloa ʼn driekuns vir die Pumas behaal het en Vincent Roos twee drieë gedruk het

♦   Die Boland het Griekwas-platteland met 32-21 geklop. En natuurlik was daar weer die onaanvaarbare slagting wat teen die arme Grens-platteland aangeteken is. Griffons het met 80-5 gewen.

SA Rugby is dit aan die spel en die ontwikkelingsproses in die Oos-Kaap verskuldig om die onaanvaarbare ongelyke wedstryde stop te sit. Dit geld op alle vlakke waar Grens-platteland in die jeugweke speel.

Akademieweek

In die Akademieweek was daar ook twee vyftigtalle, met die wedstryd wat die OP-platteland met 34-27 teen die Valke gewen het die taaiste van die dag.

SWD het hul bure, die OP, met 45-31 geklop; die diepte van die Limpopo Blou Bulle is beklemtoon met die 64-17-oorwinning teen Griekwas-platteland; en die WP het KZN 50-36 kafgedraf waar keerwerk vir albei spanne, soos die telling aandui, nie ʼn prioriteit was nie.

In die ander wedstryd het Griekwas met 34-19 teen KZN-platteland gewen.

Donderdag se wedstryde (Dag 4)

Cravenweek

09:00 – OP-platteland vs Zimbabwe
10:35 – Griekwas vs Valke
12:05 – Blou Bulle vs OP
13:45 – Namibië vs Luiperds
15:30 – KZN vs SWD

Akademieweek

08:00 – Griffons-platteland vs Namibië
09:20 – Zimbabwe vs Grens-platteland
10:40 – Pumas-platteland vs Luiperds
12:00 – SA LSOB vs Valke-platteland
13:20 – Grens vs Goue Leeus XV
14:40 – Vrystaat vs Goue Leeus
16:00 – Blou Bulle vs Pumas

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Josua Keys ·

Ek wil net graag weet wat het van die dae geword waar skole genooi was om voor wedstryde te speel op die groot stadions voor ‘n Currie beker wedstryd of so, waarom speel die B spanne ook nie meer voorwedstryde nie dit sal ook die ouens skerp en fiks hou indien in die top span benodig sou word haal. Ek weet dit gaan groot en deels oor koste besparing ens maar as dit reg bestuur word sal dit meer toeskouers lok en stadions vul , bring dit asb terug in ons rugby en sommer ook die bulletjie rugby dan kan ‘n mens ‘n dag van lekker rugby op jou gunsteling stadion geniet………BRING BACK THE OLD DAYS. Soos more bv moes die sharks B teen die Lions B gespeel het en wie ookal van die skole wat genooi sou word om die voor wedstryde te speel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.