Cravenweek: SWD pronk, Blou Bulle stotter

Clyde Lewis, SWD se losskakel, aan die hardloop teen die OP (Foto Sydney Seshibed/Gallo Images)

Dit lyk of die twee spanne wat verlede jaar in die Cravenweek se hoofwedstryd gespeel het, die Westelike Provinsie en die Goue Leeus, dit Woensdag in hulle groep se ‘tweede ronde’ sal uitspook om Saterdag weer een van die uitsoekspanne te kan wees.

Op die tweede dag van die Cravenweek by St Stithians was daar egter ʼn verrassing toe die SWD welverdiend met die gunsteling, die Oostelike Provinsie, in die ander groep afgereken het (27-22) en KwaZulu-Natal het die Bulle Bulle met ʼn oortuigende 53-33-sege beslis uit die hoofwedstryd-wedloop geskakel.

Soos op die eerste dag was daar weer ʼn buitengewoon hoë telling toe Zimbabwe na ʼn mededingende begin net eenvoudig nie die skietgoed gehad het om die Luiperds van die wegholoorwinning te weerhou nie.

Die eindtelling was 72-17 met die rustydtelling slegs 20-7. Die wenspan het toe nog 52 punte teen net tien bygevoeg en altesaam 11 drieë gedruk – drie deur die heelagter Bertru Jones, en twee deur die losskakel Hanru Van Rooyen wat ook sewe doelskoppe en ʼn strafdoel aangeteken het vir ʼn bydrae van 27 punte.

Griekwas het ook op ʼn drafstap teen die OP-platteland gewen, 42-20. En die dag het goed begin, veral vir Namibië, wat met 52-36 teen die Valke gewen het nadat hulle drie vroeë drieë en 19 punte afgestaan het.

Die Namibiese voorspelers was daarna in beheer, het veral die skrums oorheers en het agterlangs die gapings gevind waar die senter Gerswin Mouton ʼn driekuns behaal het.

♦  Maar kom ons staan ʼn bietjie stil by die SWD se puik 27-22-oorwinning teen die OP. Die Baaienaars was vanuit die staanspoor onder druk, en  die rustydtelling het op 19-10 in die guns van die wenspan gestaan.

Twee van SWD se drieë is deur die stut Dian Bleuler gedruk. Met die twee pakke voorspelers wat goed teen mekaar opgeweeg het, was dit die vaart en beter afronding van die wenspan wat die deurslag gegee het.

Met albei spanne wat met oorgawe gehardloop en so vergoed het vir ʼn paar gevalle waar vaardigheidsvlakke nie na wense was nie, het die OP goed teruggeveg en het hulle die laaste drie gaan druk.

Maar dit was toe te laat. Die SWD, vir wie die Britse en Ierse Leeu CJ Stander sy span in 2008 by Affies tot oorwinning in die hoofwedstryd aangevoer het, het hulle kanse verstewig om Donderdag, waarskynlik teen KZN, weer die hoofstryd te probeer haal.

♦  Oor die Blou Bulle kan ʼn mens net kop skud. Hulle was enkele oomblikke voor rustyd reeds met 0-38 agter. Toe is KZN se onderkaptein en oopkantflank Dylan Kruger afgestuur na ontoelaatbare spel by ʼn afbreekpunt.

Dit het die Bulle laat terugveg na 28-38 toe voordat die KZN-manne wakker geskrik en nog 15 punte bygevoeg het.

Die wenspan het agt keer teenoor vyf gaan druk, maar die basiese foute van die Blou Bulle was onaanvaarbaar. Dit het menige goeie aanval met swak hantering of -ondersteuning ongedaan gemaak.

En ʼn span uit ʼn groot unie staan nie agt drieë af teen ʼn KZN-span met agt spelers in hulle opdrafspan van Glenwood High wat onlangs nog tuis groot slae teen Monnas gekry het nie.

Akademieweek

In die Akademieweek was die tellings ook in drie van die ses wedstryde buite verband groot.

Die Goue Leeus Vyftiental het met 62-14 teen Zimbabwe se naasbestes gewen, terwyl die Grens-platteland nog ʼn pak gekry het met die Valke-platteland wat hulle met 51-12 geklop het.

Die SA LSOB-span was ook te sterk vir Griffons-platteland (57-36) – maar daar was darem drie gevalle waar die woord ‘kragmeting’ werklik van toepassing was.

Die Blou Bulle het met 26-23 teen die Vrystaat gewen, Namibië kon net-net nie vir Pumas-platteland  troef nie (15-16), en die Pumas se sterkste span in die Akademieweek het hul eweknieë van die Goue Leeus ook met een punt, 23-22, geklop.

Bepalings Dag 3 (Woensdag)

Cravenweek
09:00 –Griffons vs Grens-platteland
10:35 – Boland vs Griekwas-platteland
12:05 – Grens vs Limpopo Blou Bulle
13:45 – Vrystaat vs Pumas
15:30 – Goue Leeus vs WP

Akademieweek
08:30 – Limpopo Blou Bulle vs Griekwas-platteland
09:55 – Griekwas vs KZN-platteland
11:20 – OP vs SWD
12:45 – OP-platteland vs Valke-platteland
14:10 – WP vs KZN
15:35 – Boland vs Griffons

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ouis ·

Geen wonder die bulle stotter met soveel swart kwota spelers in hul span nie, baie van die spelers by die Craven week is nie gekies op meriete nie

Pietman ·

Weens die kwota stelsel gaan die provinsies met groot aantal kleurlinge ( wat darem rugby speel) beter vaar. Dis WP, SWD, Boland, en OP.

VM ·

Vandag lê ek ook ‘n eier. Gaan nie provinsie of span se naam noem nie. My seun dring deur na finale proewe, maar moet die knië buig voor ‘n kwotaspeler wat nie 1 van die proewe bygewoon het nie. Van die 23 spelers moes 13 kwotaspelers wees – waarvan net 6 van die kwotaspelers die proewe bygewoon het. Teleurstellend!

TN ·

Die Bokkie week spanne sal sal hierdie Cravenweek spanne n rugby les gee as hulle teen mekaar moet speel, want daar word geen kwotas afgedwing nie, jy is slegs op meriete daar!! Ek is soooo gatvol vir die regering wat al ons sport in `n poletieke storie verander!!! Ek het geen probleem met velkleur nie, as `n swart speler beter is as die wit outjie wat in die selfde posiesie speel sal ek hom net so hard ondersteun, maar nou word alles in ons kele afgedruk net oor hulle wil en kan!!!! Laat julle seuns maar eerder Bokkie proewe gaan speel in die vervolg!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.