Cronjé uit derde toets, maar Kriel sal speel

Franco Mostert en Ross Cronjé, twee van die grootste Bokuitblinkers Saterdag. Cronjé sal die derde toets moet uitsit (Foto: GB Jordaan)

Jesse Kriel sal Saterdag vir die Springbokke op buitesenter uitdraf waar hy saam met Jan Serfontein so blink in die eerste toets teen Frankryk vertoon het, maar die skrumskakel Ross Cronjé sal nie speel nie.

Kriel kon weens harsingskudding nie in die tweede toets speel nie. Nou is dit Cronjé se beurt.

Volgens  ʼn mediaverklaring van SA Rugby toon Cronjé “vertraagde simptome van harsingskudding” wat hy in die tweede toets in Durban opgedoen het. Soos in die eerste toets was sy werkverrigting, vinnige diens en opsies dinge wat die Bokke die afgelope tyd gemis het.

Volgens SA Rugby sal Cronjé nie betyds deur die harsingskuddingprotokol kan kom om vir Saterdag se toets op Ellispark oorweeg te word nie.

Hy sal die res van die week rus, volgens die spandokter, dr Konrad von Hagen.

Francois Hougaard wat om een of ander rede verlede seisoen nouliks kans op skrumskakel gekry het toe die Bokke werklik in die posisie gesukkel het, en Rudy Paige is in die Springbokgroep en geen skrumskakel sal gevra word om by die groep aan te sluit nie.

♦  Die bekendmaking in die mediaverklaring dat Lionel Mapoe, wat in die tweede toets vir Kriel ingestaan het, en Francois Venter teruggaan na die SA A-span vir Vrydagaand se tweede wedstryd teen die Franse Barbarians, dui daarop dat kriel slaggereed is en gekies sal word.

Oupa Mohoje is natuurlik ook uit, maar dit is vanselfsprekend dat Siya Kolisi, wat Saterdag flankspel uit die boonste rakke uitgestal het, en Jean Luc du Preez wat in Mohoje se plek beïndruk het, die opdrafflanke sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.