Crusaders hou by wenspan, Chiefs verander twee

Dit was seker een van die maklikste besluite wat die Crusaders-afrigter, Scott Robertson, nog moes neem toe hy sy span gekies het vir Saterdag se Superrugby-halfeindstryd teen die Chiefs in Christchurch.

Dit reën steeds in Christchurch, hoewel dit glo voor die naweek sal  opklaar. Die reën het verlede week noodtoestand-afmetings in die stad aangeneem.

Ai, hoe smag die Kapenaars nie na ʼn bietjie van die reën nie! Maar sou hulle wou gehad het dat die Stormers in die Chiefs se plek teen die Crusaders wou speel? Nee.

Die lang vlug van Kaapstad na Nieu-Seeland, en dan nog die aansluitvlug na ʼn oorstroomde Christchurch, sal enige span se moed in sy skoene laat tap.

Robertson het dieselfde groep behou wat die Highlanders in die kwarteindstryd met 17-0 op ʼn sopnat veld geklop het.

Hulle het baie beter as die Highlanders by die toestande aangepas, maar almal weet dat die Crusaders, wat sewe All Blacks in die pak het, nóg  drie agterlangs en twee op die bank, droë toestande verkies. Dink maar terug aan hul wedstryd aan die begin van Mei toe hulle die Bulls op Loftus Versfeld met 62-24 omgerol het.

Die Chiefs, wat die Stormers met 17-11 geklop, het die byna vergete All Black-senter Charlie Ngatai weer in die plek van die veteraan Stephen Donald nader getrek.

Ngatai het byna ʼn jaar lank met harsingskudding gesukkel en het op 6 Mei teen die Reds teruggekeer, maar toe weer ʼn stamp teen die kop gekry. Hy het vir die Nieu-Seelandse Maori teen die Britse en Ierse Leeus gespeel, maar toe ʼn enkelbesering opgedoen: ʼn ware ongeluksvoël.

Die Samoaan Tim Nanai-Williams speel vleuel in die plek van Solomon Alaimalo.

Op Woensdag se mediakonferensie het Robertson die Chiefs-afrigter, Dave Rennie, heuning om die mond gesmeer, vertel hoeveel waarde hy toegevoeg het, hoe hy die span omgeswaai het.

Kan ʼn mens nog werklik daaraan byt?

Die spanne –

Crusaders
David Havili, Israel Dagg, Jack Goodhue, Ryan Crotty, Seta Tamanivalu, Richie Mo’unga, Bryn Hall, Kieran Read, Matt Todd, Jordan Taufua, Sam Whitelock (kapt.), Scott Barrett, Owen Franks, Codie Taylor, Joe Moody. Bank: Ben Funnell, Wyatt Crockett, Michael Ala’alatoa, Luke Romano, Pete Samu, Mitchell Drummond, Mitchell Hunt, George Bridge.

Chiefs
Damian McKenzie, Tim Nanai-Williams, Anton Lienert-Brown, Charlie Ngatai, James Lowe, Aaron Cruden, Tawera Kerr-Barlow, Michael Leitch, Sam Cane (kapt.n), Liam Messam, Brodie Retallick, Mitchell Brown, Nepo Laulala, Nathan Harris, Kane

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.