Crusaders net té sterk vir Highlanders

Die Crusaders was vandag net te sterk in die eerste kwarteindstryd. Foto: Facebook.

Vandag se kwarteindstryd tussen die Crusaders en die Highlanders kan soos volg opgesom word: Die Highlanders speel lekker rugby, maar die Crusaders speel lekkerder.

Die tuisspan het die kragmeting oortuigend met  38 – 14 gewen ná ’n skitterende tweede helfte waarin hulle 21 onbeantwoorde punte aangeteken het.

Dit was ’n klipharde eerste helfte met albei spanne wat met mening in veral die afbreekpunte ingeklim het. Twee drieë elk het gesorg dat die Crusaders ’n voorsprong van 17 – 14 geniet het.

Maar ’n geelkaart net nadat spel weer hervat is het die momentumpendulum in die Crusaders se guns geswaai en hulle het alle fasette van die spel begin oorheers.

Die bal is na hartelus rondgeslinger, die hanteerwerk was by tye wragtie briljant en ’n paar lynstaanballe is gesteel.

Die Highlanders het egter moedig verdedig en as die Crusaders (in dié bui) vandag teen ’n Suid-Afrikaanse span moes gespeel het, sou die eindtelling waarskynlik baie hoër gewees het.

Daar was vanjaar hier en daar ’n blaps op die Crusaders se wenrapport gewees, maar hulle is volstoom op pad om weer met die louere weg te stap.

As enige ander span die Superrugby-trofee vanjaar wil wen, sal hulle dit in Christchurch moet kom doen.

Puntemakers:

Crusaders: Drieë: David Havili, Richie Mo’unga (2), Whetu Douglas, Michael Alaalatoa. Doelskoppe: Mo’unga (5). Strafskop: Mo’unga.

Chiefs: Drieë: Sio Tomkinson, Teihorangi Walden. Doelskoppe: Josh Ioane (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

stefan boshoff ·

Go All Blacks!!! Ek glo julle sal dieselfde doen met jul eerst kragmeting teen die bokke.

PIERRE ·

Go Crusaders, Hurricanes, Chiefs, Brumbies. Julle verdien om daar te wees. Finaal Crusaders, Hurricanes of Chiefs. Dit gaan mos rugby wees.

Frans C ·

Die beste vertoning van ‘n Suid Afrikaanse span vandag (Saterdag 22 Junie) was beslis die Bulls teen die Hurricanes.Jammer dat die span net soos die Leeus van hul spelers gaan verloor, Waar was Manie Libbok?.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.