Crusaders ontsnap (weer) teen die einde

crusaders-logo-teamspagesOm ’n oorwinning te beklink nadat jou doppie waarskynlik reeds geklink was, gebeur in rugby. Om dit twee wedstryde na mekaar reg te kry, is baie raar en die  gevoel sal wees dat jy jou dosis geluk opgebruik het.

Maar drie keer na mekaar? Dis darem ongehoord. Maar dit is presies wat die Crusaders Vrydagoggend (SA tyd) reggekry het, toe hulle die Blues met 33-24 in Christchurch geklop het.

Met die Crusaders teen rustyd met 5-21 agter sou min mense gedink het hulle sal weer ’n terugvegpoging soos die vorige twee weke van stapel kon stuur. Maar dit is presies wat hulle gedoen het.

Vier drieë na die waterbreek het vir die manne van Canterbury ’n oorwinning verseker.

Selfs sonder spelers soos die All Black-heelagter, Israel Dagg, wat verlede week teen die Reds die veld met ’n besering verlaat het en lank van die veld sal wees, het die Crusaders in die tweede helfte werklik gevaarlik gelyk.

Vir die wenspan het die losskakel Mitchell Hunt uitgeblink en soos ’n poppemeester die toutjies agterlangs getrek.

♦ Crusaders het na rustyd met vier doele 28 punte aangeteken teen die skamele strafdoel van die Blues.

Verlede week, teen die Reds wat rustyd met 20-7 voor was, het die Saders na rustyd losgetrek en 15 punte teen geen aangeteken en met 22-20 gewen.

En die week voor hierdie Reds-sege, was dit die Highlanders wat dit moes ontgeld. Crusaders het van ʼn agterstand van 6-17 met rustyd en 6-27 na 47 minute vlamgevat, vier drieë gaan druk (een verdoel) en met 30-27 gewen nadat Hunt twee minute voor die eindtoeter met ʼn strafdoel geslaag het.

Die eerste twee van die terugveg-oorwinnings was in wegwedstryde.

Puntemakers –

Crusaders (5) 33: Drieë: Manasa Mataele, Peter Samu, Ben Funnell, Mitchell Hunt, Mitchell Drummond. Doelskoppe: Hunt 4
Blues (21) 24: Drieë: George Moala 2, Agustine Pulu. Doelskoppe: Piers Francis 3. Strafdoel: Francis.

♦ In Melbourne het die Rebels Vrydag amper die tweemalige kampioen, die Chiefs, se doppie vir hulle geklink.

Die Nieu-Seelandse span moes sweet om met 27-14 te wen en was dit nie vir ’n blitskrieg in die laaste kwart van die wedstryd nie, het hulle hul eerste neerlaag van die jaar gely.

Wanneer daar, soos in die laaste paar weke, oor ’n verkleinde Superreeks gepraat word, is die Rebels een van die spanne wat volgens baie menings in die slag moet bly.

Dié Australiese span het egter Vrydagoggend (SA tyd) hul meer geroemde teenstander vir amper ’n uur lank baie middelmatig laat lyk.

Puntemakers –

Rebels (3) 14: Drie: Marika Koroibete. Strafdoele: Jackson Garden-Bachop 3.
Chiefs (7) 27: Drieë: Dominic Bird, Brodie Retallick, Sam Cane, Shaun Stevenson. Doelskoppe: Damian McKenzie 2. Strafdoel: McKenzie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Die Crusaders sukkel agterlangs en elke keer moet daar op outydse voorspelerspel teruggeval word om die wa deur die drif te trek. Die aantal beserings wat die span het maak die oorwinnings nogtans merkwaardig,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.