Crusaders oor die eerste hekkie met laat skepdoel

Ná Saterdag is die Lions se hoop op ʼn moontlike tuiseindwedstryd nou op die Hurricanes gevestig wat die Crusaders in dié se laaste wedstryd moet klop.

Die Crusaders, met tien veranderinge aan hul span, het Saterdag sowat twee minute nadat speeltyd verstreke was met 25-22 teen die Highlanders gewen. Die plaasvervanger-losskakel van Crusaders, Mitch Hunt, het ná vele fases met ʼn desperate skepdoel vanaf sowat 40 meter geslaag.

Ná 76 minute was die telling nog 22-19 in die Highlanders se guns en het die tuiseindstryd al so effentjies in die verte vir die Lions gewink. Hunt het ʼn strafdoel oorgeskop en toe kom daardie skepskop.

♦  Om seker te maak van die eindstryd, mits hulle natuurlik die voorafgaande uitspeelwedstryde wen, móét die Crusaders op 15 Julie teen die Hurricanes in ʼn moeilike wegwedstryd wen. Dit sal hulle op 67 punte plaas, of 68 sou hulle die onwaarskynlike vermag en met ʼn drieë-bonuspunt teen die Hurricanes wen.

Dit is buite bereik van die Lions wat 56 ligapunte het en met twee bonuspuntseges ten beste op 66 kan eindig.

♦  Verloor Crusaders egter teen die Canes sal hulle hoogstens, mét ʼn verloorbonuspunt, op 64 punte eindig, of ná ʼn gelykop uitslag 65 punte hê.

Die Lions sal dan in laasgenoemde geval (op dieselfde dag) die Sharks in Durban moet klop nadat hulle twee weke voor hierdie wedstryd (op 1 Julie) tuis vir die Sunwolves met ʼn bonuspunt moet klop om op 65 rondomtaliepunte te eindig.

Punteverskil kan uiteindelik die rangorde bepaal.

♦  Saterdag het Crusaders, ondanks die laat naelskraapse oorwinning teen die Highlanders, die meeste van die speelwerk gedoen. Hulle het, veral in die tweede helfte met ʼn groot marge, die meeste besit gehad; die bal die meeste gedra; die minste getêkkel; die minste duikslae gemis; en meer omkeerbesit en losskrums gewen.

Wat hulle effens sal pla, is dat hulle, ondanks die voordeel in letterlik elke faset, net soos die Highlanders drie drieë gedruk het.

Puntemakers –

Crusaders (19) 25: Drieë: Mitchell Drummond, Seta Tamanivalu, Heiden Bedwell-Curtis. Doelskoppe: Richie Mo’unga 2. Strafdoel: Mitch Hunt. Skepdoel: Hunt.
Highlanders (10) 22: Drieë: Richard Buckman, Waisake Naholo 2. Doelskoppe: Marty Banks 2. Strafdoel: Banks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fires ·

Die Lions moet eerder op hulle wedstryd teen die Sharks konsentreer as om oor die Crusader/Hurricane wedstryd te bekommer

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.