Crusaders-stryd gekanselleer; Reds klop Sunwolves

Foto: Reds Rugby/Twitter

Die Nieu-Seelandse Rugbyunie sê dit was ʼn baie maklike besluit om Saterdagoggend se Superrugbywedstryd tussen die Crusaders en Highlanders in Dunedin te kanselleer uit eerbetoon aan die 49 slagoffers wat omgekom het in Vrydag se twee dodelike skietvoorvalle by moskees in Christchurch.

Albei spanne sal nou twee punte ontvang en die Crusaders is reeds huis toe.

Die besluit is volgens AFP geneem nadat albei spanne, die stadion-bestuur van die Forsyth Barr-stadion en die polisie dringend vergader het. Hoewel die polisie die jawoord gegee het dat die wedstryd kon voortgaan, het albei spanne daarteen besluit.

Die kriekettoetswedstryd tussen Nieu-Seeland en Bangladesj in Christchurch is reeds Vrydag afgelas nadat die Bangladesj-spelers ʼn baie noue ontkoming by een van die moskees gehad het en die geskokte spelers ook reeds huis toe.

Uit eerbetoon aan die slagoffers, beseerdes en hul gesinne word daar by alle Superrugbywedstryde ʼn minuut van stilte voor die afskop gehandhaaf.

* Intussen het die Japanse Sunwolves Saterdagoggend een van hul beste vertonings nog in die eerste helfte teen die Reds gelewer, maar toe die kluts in die tweede helfte kwytgeraak.

Die Reds, wat rustyd met 5-21 agter was, het met 34-31 gewen nadat die heelagter, Hamish Stewart, met die wenstrafdoel in die 79ste minuut geslaag het.

Die Sunwolves was vol passie en soos hul naam aandui, saam as ʼn pak vir 40 minute gejag. Hulle het die Reds met hul opskietverdediging onder druk geplaas, hul bewegings op volle vaart uitgevoer terwyl die losskakel, Hayne Parker, se korrel weer reg ingestel was.  Hulle het ook nie geskroom nie om hul twee snellers, Gerhard van den Heever en Hosea Saumaki, in te span nie.

Maar ná rustyd het die Reds se voorspelers beheer geneem en het die tuisspan min antwoord gehad. Vier drieë het hieruit voortgevloei terwyl die Sunwolves tam voorgekom het.

Dit was die Reds se eerste oorwinning vanjaar en dis hoekom die afrigter, Brad Thorne, so breed geglimlag het.

  • Uit ʼn Sulwolves-oogpunt bly die vraag steeds hoeveel die Japanse spelers baat by die Superreeks vind, aangesien die span oorwegend uit spelers van Suid-Afrika, Australië, Nieu-Seeland, Georgië en die Suidsee-Eilande bestaan. Hoeveel Japanners ontwikkel werklik?

Punte

  • Reds 34 (5) Drieë: Harry Hockings, Brandon  Paenga-Amosa (2), Harry Hooper, Tate McDermott. Doelskoppe: Hamish Stewart (3). Strafdoel: Stewart.
  • Sunwolves 31 (21): Drieë: Jamie Booth, Rahboni Warren-Vosayaco, Dan Pryor, Keisake Uchida. Doelskoppe: Hayden Parker (4). Strafdoel: Parker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Judge Dredd ·

Jammer vir die aanval – maar nou wonder ek net – sal daar ook ‘n minuut stilte by super rugby wedstryde wees as Christene aangeval word?

Frans C ·

Isis se treurbewind is op video dwarsoor die wêreld vertoon,almal wat teen hul gekant was is wreedaaardig vermoor,dit het alle gelowe ingesluit wat nie in ooreenstemming was met ‘ekstreem Islam’ asook die uitwissing van homseksueles,ens.

Die wêreld het rustig sy gang gegaan ook tydens die aanvalle op kerke van Christene in Egypte.

Willie ·

Dubbel standaarde, nie lank terug nie het hulle geweier on ñ oomblik van stilte te Hou vir plaasmoorde!

Frans C ·

Die kompetisie het sy aard verloor/Dit het begin as ‘n kompetisie tussen provinsiale spanne.Later het die provinsiale spanne ontwikkel in streeksspanne. Die sunwolves en Jaguares is nie streeksspanne nie,maar internasionale spanne en behoort nie in die kompetisie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.