Crusaders vernietig Stormers met blitsaanval en agt drieë

Die Stormers se aanslag is Saterdag binne 29 minute in die eerste helfte vernietig toe die Crusaders vyf van hulle agt drieë gedruk en hulle die Stormers  in Christchurch met 57-24 geklop het.

Dit was die Stormers se tweede opeenvolgende neerlaag na verlede week toe die Lions hulle ook oortuigend geklop het. Die Kapenaars het nou na elf wedstryde teen Crusaders in Nieu-Seeland nog nie gewen nie met ʼn gelykop-uitslag hul beste poging.

Die Crusaders is dus die seisoen nog onoorwonne hoewel dit Saterdag in die eerste elf minute gelyk het of die Stormers kan verras. Saders is op hulle tuisveld haas onoorwinlik teen Suid-Afrikaanse spanne en het benewens die gelykopuitslag teen die Stormers al 38 die ander wedstryde sedert 1996 gewen.

Die Stormers het in daardie 11 minutet volop besit gewen, in die losskrums die beste daarvan afgekom en die Saders net buite of binne hulle eie kwartgebied vasgepen.

Maar toe breek die tuisspan weg, en binne 29 minute was daar vyf Crusaders-drieë, drie deur die vleuel George Bridge en twee deur Kieran Read, op die telbord en het die spanne op 36-3 gaan water drink.

Lang aangeë, ook dié onder die arm uit soos Sonny Bill Williams, en die tipiese ondersteuning Nieu-Seelandse spanne, het die toenemende hangskouers van die Stormers veroorsaak.

Die opskietverdediging het ook bygedra tot swak oordeel en hanteerfoute deur die onervare agterspelers van die Stormers.

Die 15 verbroude duikslae van die Stormers voor rustyd (en 16 daarná) het ook nie gehelp nie, maar heelparty daarvan was, ter versagting, aan die goeie rigtingverandering en ondersteuning van die Kiwi’s se agterspelers te wyte.

♦  Na rustyd was die Stormers darem ʼn hele entjie beter, al kan dit ook toegeskryf word aan die vroeë opstuur van bankspelers.

Cheslin Kolbe het in die eerste minuut na die hervatting gaan druk, en Bjorn Basson en Frans Malherbe het die ander twee drieë gedruk. Dit tel wel nie vir die uitslag nie, maar in die tweede helfte het die Stormers 21 punte teen Saders se 21 aangeteken met albei spanne wat drie drieë gedruk het.

Dit is nietemin noemenswaardig, amper ʼn prestasie, want in hulle vorige sewe wedstryde het die Crusaders in die tweede helfte saam net 35 punte afgestaan. Boonop was die Stormers die eerste span wat vanjaar in die laaste kwart ʼn drie teen hulle kon druk.

♦  Vir die Stormers was daar ook die slegte nuus dat Dan du Plessis, met wat gelyk het na ʼn elmboog- of skouerbesering, van die veld is.

Dit beteken dat hulle nou sonder vier van hulle voorste senters moet klaarkom.

Juan de Jongh, Damian de Allende en Huw Jones (eers deur Skotland opgeroep, en tans beseer) is ook buite aksie.

Puntemakers –

Crusaders (36) 57: Drieë: George Bridge 3, Kieran Read 2, Michael Ala’alatoa, Peter Samu , Richie Mo’unga. Doelskoppe: Mo’unga 7. Strafdoel: Mo’unga
Stormers (3) 24: Drieë: Cheslin Kolbe, Bjorn Basson, Frans Malherbe. Doelskoppe: Robert du Preez. Strafdoel: Du Preez.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Peet ·

Ek is seker die Stormers is verlede week deur die Lions geklop en nie deur die Bulls nie…

Wim van der Berg ·

Verskoning vir die glips en dankie vir die uitwys. Reggemaak

Pietsepan ·

Ons moet erken dat ons gehalte rugby erg by die NS spanne afsteek.

Henry ·

Is heel logies Pietsepan.
Daarom bekleë ons die 7de posisie op die wêreldranglys.

Frans C ·

Ai d it is swaar om te sluk -STORMERS het verander in drawwers.Dit is moeilik om te glo dat wat tog een van Suid Afrika se voorste spanne behoort te wees so uitgerafel het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.