Crusaders wys hoe dit gedoen moet word

Die Crusaders hardloop op die veld gereed vir hul kragmeting teen die Chiefs in Christchurch [9 Maart 2019]. (Foto: Twitter)

Wanneer ’n mens na hedendaagse rugby kyk en rugbyliga se eentonige fasespel nageaap word, dink jy daaraan om die televisiekanaal te verander of selfs die TV af te sit.

Maar wanneer die Crusaders die dag vlamvat, is dit sekerlik die regte bestanddele om as teenvoeter te dien vir rugbyliga se storm-blindelings-op-die-teenstander-af om besit te behou en nog ʼn fase af te dwing.

Dis hoekom die koffie so smaaklik was toe die Crusaders die Chiefs Saterdagoggend in Christchurch met 57-28 geklop het nadat hulle rustyd reeds met 33-7 voor was.

Die eindtelling vlei die Chiefs, want hulle moes veel verder verloor het. Die Crusaders het die meeste van hul sterspelers reeds vervang en laat slaplê.

Nege spogdrieë vertel die verhaal, 19 opeenvolgende seges in die Superrugbyreeks en 22 tuisoorwinnings is nie te versmaai nie. Is dit nie die rede waarom die stadion byna volgepak was nie en hoekom daar ook in Suid-Afrika soveel Crusader-ondersteuers is?

Hoewel die Crusaders heeltemal oorheers het, skets die statistieke die regte prentjie.

Die Crusaders het die 137 keer gedra teenoor die Chiefs se 99, hulle het die bal 171 keer uitgegee teenoor die Chiefs se 146, maar dit was berekende aangeë. Die bal word nie wild rondgeslinger nie, dit word aan ʼn spanmaat gegee wat in ʼn beter posisie is. Daar is altyd ʼn speler by om te ondersteun, daar is altyd die keuse om na links of regs die bal uit te gee. ʼn Speler probeer nooit doelloos in ʼn teenstander vashardloop nie.

Wanneer daar geskop word, is dit nie doelloos nie. Dit word gedoen om die ander span onder druk te plaas, om die teenstanders agter die voordeellyn vas te trek, om besit te probeer bekom.

Dit is nie net heldeverering nie, dis blote feite.

Punte: 

Crusaders 57 (33): Drieë: Braydon Ennor, Sevu Reece, Will Jordan (2), Andrew Makalio, Michael Allaatoa, Codie Taylor (2), Bryn Hall. Doelskoppe:  Richie Mo’unga (5), Mitchell Cameron.

Chiefs 28 (7 ): Drieë: Teleni Seu, Etene Nanai-Seturo, Jack Debreczini, Mitchell Brown.

Doelskoppe: Damian McKenzie (3). Debreczini.

Die Blues se Rieko Ioane duik vir ‘n drie tydens die span se Superrugby-wedstryd teen die Sunwolves in Auckland, Nieu-Seeland. [9 Maart 2019]. (Foto: Shane Wenzlick/Photosport via AP)

* In Saterdagoggend se tweede wedstryd in die North Harbour-stadion buite Auckland was die twee Ioane-broers, Rieko en Akira, in die kollig toe die Blues helaas hul wendroogte gebreek toe hulle die Sunwolves met 28-20 geklop het.

Rieko Ioane het vier drieë gedruk om hom by Doug Howlett, Mils Muliaina en Joeli Vidiri aan te sluit wat dit voorheen ook vir die Blues vermag het.

Terwyl Rieko die jong ondersteuners se held was, het sy ouer broer, Akira, die grondslag gelê met sy fisieke dryfwerk. Hy steek soms lyf weg wanneer die harde werk voorlangs gedoen word, maar daar is min spelers wat vir hom kan kers vashou wanneer hy op loop gaan.

Die wedstryd het maar afgesteek by die Crusaders-stryd, want die Blues het 19 keer geskop en die Sunwolves 14 keer.

Daarteenoor het die Blues die bal 133 keer gedra (net vier keer minder as die Crusaders teen die Chiefs), maar het hulle baie minder met die besit uitgerig en byna 300 meter minder met die bal as die Crusaders teen die Chiefs gevorder. Boonop het hulle 23 keer misgeduik teenoor die Sunwolves se 30.

Maar wat saak gemaak het, is dat die Blues ná ʼn paar moeilike en frustrerende weke weer op die oorwinningspad uitgekom het en kan die afrigter, Leon MacDonald, hierop voortbou.

Punte 

Blues 28 (15): Drieë: Rieko Ioane (4). Doelskop: James Plummer. Strafdoele: Plummer, Otere Black.

Sunwolves 20 (13) : Drieë: Rikiya Matsuda. Uwe Helu. Doelskop: Matsuda. Strafdoele: Matsuda (2).

Die Waratahs het op die SGC in Sydney die Reds met 28-17 geklop. (Foto: Twitter via @SuperRugby)

* Die Waratahs het op die SGC in Sydney (die tuiste van die Australiese krieketspan) die oggend versuur toe hulle die Reds in ʼn getjommel met 28-17 geklop het nadat hulle rustyd met 16-12 voor was.

Ai, om darem soveel doellose skoppe te sien, om te aanskou hoe soms vaardige spelers die verkeerde besluite neem, die bal aanslaan, skeef ingooi in ʼn lynstaan of blatant onkant speel, sal jy na ʼn ander sportkanaal wil oorskakel.

Dis jare lank een van die groot foute van die Australiese spanne; die spelers se basiese vaardighede ontbreek en hulle is ook nie goed afgerig nie, of so kom dit altans voor.

Dis jammer dat talentvolle spelers soos Kurtley Beale en Israel Folau nooit die kans sal kry om saam met ander vaardighede spelers te speel nie, want dit is ʼn mors van talent. Maar nou ja, wie sal kla as die Wallabies nie die mas kan opkom in die Rugbykampioenskap of later vanjaar in die Wêreldbekertoernooi nie?

Dan moet die besluit om rugby op ’n krieketveld te speel, waar groot sooie elke keer na elke skrum omgespit is, bevraagteken word.

Punte: 

Waratahs 28 (16): Drieë: Ned Hanigan, Curtis Rona, Alex Newsome. Doelskoppe: Bernard Foley (2). Strafdoele: Foley (3).

Reds 17 (12):  Drieë:  Samu Kerevi, Sefanaia Naivulu, Chris Feauia-Sautia: Doelskop: Bryce Hegarthy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.