Crusaders wys hul staal teen Hurricanes

Foto: Crusaders/Facebook

Die Crusaders het die Hurricanes Saterdag met 38-22 in Christchurch geklop.

Die verdedigende kampioen het die Hurricanes behoorlik geslag in die eerste helfte en teen halftyd het die Crusaders met 24-0 voorgeloop.

Scott Barrett het in die negende minuut sy eerste drie aangeteken gevolg deur Richie Mo’unga in die 25ste minuut.

Jordan Taufua het minute daarna oor die doellyn geduik om die telling op 17-0 te staan te bring. Mo’unga het kort voor rustyd weer agter die pale gaan kuier.

Barrett het minute na die begin van die tweede helfte weer oor die doellyn geduik om die Crusaders met 31-0 voor te laat loop.

Die Hurricanes het in die 48ste minuut vir die eerste keer punte aangeteken toe Ben Lam sy eerste van twee drieë gedruk het.

Wes Goosen het hierna vir die Hurricanes punte gemaak en die telling op 31-10 te staan gebring. George Bridge het in 77ste minuut die Crusaders se voorsprong tot 38-10 opgebou.

Lam het in 80ste minuut weer oor die doellyn geduik voor sy spanmaat TJ Perenara in ekstratyd ʼn drie gedruk het om die Hurricanes se telling op 22 te staan te bring.

Die Crusaders het die Blues verlede naweek in Auckland in hul Superrugby-wedstryd met 24-22 geklop. Die Hurricanes het die Waratahs net-net met 20-19 geklop.

Puntemakers:

Crusaders 38 (24)

Drieë: Scott Barrett (2), Richie Mo’unga (2) Jordan Taufua, George Bridge. Doelskoppe: Richie Mo’unga (3), Mitch Hunt

Hurricanes 22 (0)

Drieë: Ben Lam (2), Wes Goosen, TJ Perenara. Doelskoppe: Jordie Barrett

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.